1Halleluja! Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.
2Wie kan die magtige dade van die Here verwoord, al sy lof verkondig?
3Gelukkig is hulle wat die reg onderhou, te alle tye geregtigheid handhaaf!
4Dink aan my, Here, uit welwillendheid teenoor u volk; sien om na my tydens u verlossing,
5sodat ek die voorspoed van u uitverkorenes mag ervaar, mag deel in die vreugde van u nasie, en saam met u erfdeel mag roem.
6Ons het saam met ons voorouers gesondig, ons het afgedwaal, goddeloos opgetree.
7Ons voorouers het in Egipte u wonders nie begryp nie, en u oorvloedige troue liefde nie onthou nie, maar in opstand gekom by die see, by die Rietsee.
8En tog het Hy hulle verlos ter wille van sy Naam, om sy mag bekend te maak.
9Hy het die Rietsee gedreig, en dit het droog geword; Hy het hulle deur die watermassa laat gaan asof deur 'n woestyn.
10Hy het hulle verlos uit die hand van haters, hulle vrygekoop uit die hand van vyande.
11Die water het hulle teenstanders bedek; nie een van hulle het oorgebly nie.
12Toe het hulle sy beloftes geglo; hulle het sy lof besing.
13Maar gou het hulle sy dade vergeet; hulle het nie sy raad afgewag nie.
14Hulle gulsigheid het hulle in die woestyn oorval; hulle het God uitgedaag in die wildernis.
15Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het 'n verterende siekte in hulle kele laat ontstaan.
16In die kamp was hulle jaloers op Moses, op Aäron, die gewyde van die Here.
17Die aarde het oopgegaan en Datan verswelg, dit het toegegaan oor die bende van Abiram.
18'n Vuur het onder hulle bende uitgebreek, vlamme het die goddeloses verskroei.
19Hulle het by Horeb 'n kalf gemaak, in aanbidding gebuig voor 'n gegote beeld.
20Hulle het hulle Majesteit verruil vir die afbeelding van 'n bees wat gras eet!
21Hulle het God wat hulle verlos, vergeet, Hy wat groot dade in Egipte gedoen het,
22wonders in die land van Gam, ontsagwekkende dade by die Rietsee.
23Hy het daaraan gedink om hulle uit te roei, as Moses, sy uitverkorene, nie by Hom in die bres getree het vir hulle om sy vernietigende toorn af te weer nie.
24Hulle het 'n kosbare land afgewys; hulle het nie sy woord geglo nie.
25Hulle het in hulle tente gemor en nie na die stem van die Here geluister nie.
26Hy het met sy hand omhoog gesweer om hulle in die woestyn neer te vel,
27om hulle nageslag neer te vel onder die nasies, hulle te verstrooi in ander lande.
28Hulle het hulle ook aan Baäl-Peor verbind en offerandes aan dooies geëet.
29Hulle het Hom met hulle optrede getart, en 'n plaag het onder hulle uitgebreek.
30Pinehas het opgestaan, tussenbeide getree, en die plaag is gestuit.
31Dit is hom toegereken as 'n regverdige daad, van geslag tot geslag, vir altyd.
32By die water van Meriba het hulle Hom vertoornd gemaak en deur hulle toedoen het dit sleg afgeloop vir Moses –
33omdat hulle teen God se Gees in opstand was, het onbesonne woorde oor sy lippe gekom.
34Hulle het nie die volke uitgeroei wat die Here vir hulle aangedui het nie.
35Hulle het met die nasies vermeng geraak en hulle gebruike aangeleer.
36Hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle 'n valstrik geword.
37Hulle het hulle seuns en dogters aan demone geoffer
38en so onskuldige bloed vergiet, die bloed van hulle seuns en dogters wat hulle vir die afgode van Kanaän geoffer het. Die land is deur bloedskuld besoedel.
39Hulle het •onrein geword deur daardie gebruike; hulle het troubreuk gepleeg deur hulle dade.
40Die toorn van die Here het teen sy volk ontbrand; Hy het 'n weersin gekry in sy erfdeel
41en hulle oorgegee in die hand van nasies, sodat hulle haters oor hulle geheers
42en hulle vyande hulle geteister het; hulle moes buig onder hulle hand.
43Baie kere het Hy hulle gered, maar hulle was doelbewus opstandig en het in hulle sondeskuld weggesink.
44Tog het Hy hulle nood raakgesien telkens wanneer Hy hulle klaagroep hoor.
45Om hulle ontwil het Hy aan sy verbond gedink, en Hy het hulle jammer gekry uit die oorvloed van sy troue liefde.
46Hy het gesorg dat daar ontferming is by almal wat hulle weggevoer het.
47Verlos ons, Here ons God! Bring ons uit die nasies bymekaar sodat ons u •heilige Naam kan prys, sodat ons kan roem op die lof wat U toekom.
48Lofwaardig is die Here, die God van Israel, van ewigheid af en vir ewig. Die hele volk moet sê: “•Amen! Halleluja!”