Psalms 105AFR20

1Prys die Here, roep sy Naam uit; maak onder die volke sy dade bekend.

2Sing vir Hom, besing Hom! Praat met oorgawe oor al sy wonderwerke.

3Beroem julle in sy •heilige Naam; laat die harte van hulle wat die Here opsoek, bly wees.

4Soek die Here en sy krag, soek voortdurend sy teenwoordigheid op.

5Roep die wonders wat Hy gedoen het in herinnering, sy tekens en die oordele van sy mond –

6nageslag van Abraham, sy dienskneg, kinders van Jakob, sy uitverkorenes!

7Hy is die Here ons God; oor die hele wêreld geld sy beslissings.

8Hy onthou vir altyd sy verbond, die woord wat Hy beveel het, vir duisend geslagte,

9wat Hy gesluit het met Abraham en met 'n eed beloof het aan Isak.

10Hy het dit aan Jakob bevestig as 'n vaste voorskrif, aan Israel as 'n ewige verbond,

11met die woorde: “Aan jou sal Ek die land Kanaän gee as julle afgemete erfdeel.”

12Toe hulle nog min in getal was, baie min, en hulle •vreemdelinge in die land was,

13het hulle van een nasie na die ander geswerf, van een koninkryk na 'n ander volk.

14Hy het geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie. Hy het konings oor hulle tereggewys:

15“Moenie aan my gesalfdes raak nie; my profete moet julle geen kwaad aandoen nie.”

16Hy het hongersnood uitgeroep oor die land; elke stok vir brood het Hy gebreek.

17Hy het iemand voor hulle uit gestuur; as 'n slaaf is Josef verkoop.

18Mense het sy voete in boeie geklem, 'n yster is om sy nek gesit

19tot die tyd toe sy woord vervul is. Die woord van die Here het hom gelouter.

20Die koning het 'n boodskap gestuur en hy is losgelaat; die heerser van volke het hom vrygelaat.

21Hy het hom heer oor sy huis gemaak, en heerser oor alles wat hy besit,

22om sy •hoë amptenare na willekeur te beperk, en sy oudstes wysheid te leer.

23Israel het in Egipte aangekom, Jakob was 'n •vreemdeling in die land van Gam.

24Die Here het sy volk baie vrugbaar gemaak; Hy het hulle magtiger gemaak as hulle teenstanders,

25wie se harte Hy verander het om sy volk te haat, om slu op te tree teen sy diensknegte.

26Hy het sy dienskneg Moses gestuur, ook Aäron wat Hy uitgekies het.

27Hulle het onder hulle sy aangekondigde tekens uitgevoer, en wonders in die land van Gam.

28Hy het duisternis gestuur, dit donker gemaak – was hulle dan nie opstandig teen sy woorde nie?

29Hy het hulle water in bloed verander, hulle vis laat doodgaan.

30Hulle land was oortrek met paddas, tot in die slaapkamers van hulle koninklikes.

31Hy het gepraat, en daar het steekvlieë gekom, muggies in hulle hele gebied.

32Hy het hulle reënbuie hael gemaak, met weerligstrale in hulle land.

33Dit het hulle wingerde en vyebome platgeslaan, die bome in hulle gebied verniel.

34Hy het gepraat, en daar het treksprinkane gekom, ontelbare voetgangers.

35Dit het al die plante in hulle land kaal gevreet; dit het die opbrengs van hulle landerye opgevreet.

36Hy het al die •eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle manlike krag.

37Hy het sy volk laat wegtrek met silwer en goud; onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.

38Egipte was bly toe hulle wegtrek, want vrees vir sy volk het hulle oorval.

39Hy het 'n wolk uitgesprei as bedekking, en 'n vuur om die nag te verlig.

40Hulle het gevra, en Hy het kwartels laat kom; met brood uit die hemel het Hy hulle versadig.

41Hy het 'n rots oopgemaak, en water het gevloei; dit het soos 'n rivier deur die dorre streek geloop.

42Ja, Hy het sy •heilige belofte aan Abraham, sy dienskneg, onthou.

43Hy het sy volk laat wegtrek met vreugde, sy uitverkorenes met jubelkrete.

44Hy het aan hulle die landstreke van volke gegee. Wat nasies met moeite verkry het, het hulle in besit geneem,

45sodat hulle sy vaste voorskrifte kan nakom en by sy wette kan hou. Halleluja!

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Psalms 105.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.