Bible

Create

Inspiring Presentations Without Hassle

Try Risen Media.io Today!

Click Here

Psalms 104

:
Afrikaans - AFR20
1 Loof die Here, o my siel! Here, my God, U is baie groot; U is met luister en glans beklee,
2 U wat Uself met lig omhul, soos in 'n mantel, wat die hemel oopspan soos 'n tentdoek.
3 U is die een wat die balke van sy bokamers op die water oprig, wat wolke sy strydwa maak, wat op die vlerke van die wind beweeg;
4 wat winde sy boodskappers maak, vlammende vuur sy dienaars;
5 wat die aarde op sy fondamente vestig dat dit vir altyd en ewig nie wankel nie.
6 Met •oerwater het U dit soos met 'n bokleed bedek; tot bo-oor die berge het die waters gestaan.
7 Weens u dreiging het die waters gevlug, weens die geluid van u donder op die vlug geslaan.
8 Dit het oor berge gespoel, in valleie afgevloei na die plek wat U daarvoor bestem het.
9 'n Grens het U gestel waaroor dit nie mag gaan nie; dit mag nie terugkeer om die aarde te bedek nie.
10 Dit is U wat fonteine laat ontstaan in die spruite. Tussen berge vloei dit deur,
11 en gee al die diere van die veld water; die wilde donkies les hulle dors.
12 Langs die strome is die voëls van die hemel tuis, tussen die digte blare sing hulle.
13 U is die een wat die berge laat drink uit sy bokamers; uit die vrug van u arbeid word die aarde versadig.
14 Dit is U wat gras laat groei vir die vee en plante vir die mens om te verbou, om voedsel uit die aarde voort te bring:
15 wyn wat 'n mens se hart bly maak, olie om die gesig mee blink te maak en brood wat 'n mens se hart versterk.
16 Die bome van die Here word versadig, die seders van die Libanon wat Hy geplant het,
17 waar voëls nesmaak en ooievaars in sipresse hulle tuiste het.
18 Die hoë berge is vir die klipbokke, die rotsskeure is 'n skuilplek vir dassies.
19 Hy het die maan gemaak vir feestye; die son weet wanneer hy moet ondergaan.
20 U laat die duisternis aanbreek en dit word nag, wanneer al die diere van die bos rondsluip.
21 Die jong leeus brul vir prooi, om hulle kos van God te vra.
22 As die son opkom, keer hulle terug en gaan rus in hulle lêplekke.
23 Mense gaan uit vir hulle dagtaak, vir hulle werk tot die aand toe.
24 Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort.
25 Daar is die see, groot en na alle kante uitgestrek! Daar wemel dit van ontelbare diere, klein en groot;
26 daar vaar die bote, en die Leviatan wat U gemaak het om daarin te speel.
27 Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd.
28 Gee U vir hulle, raap hulle dit op; maak U u hand oop, word hulle versadig met wat goed is.
29 Verberg U u gesig, is hulle angsbevange; neem U hulle asem weg, vergaan hulle en keer terug na die stof wat hulle was.
30 Stuur U u asem, word hulle geskape. U gee die oppervlak van die grond 'n nuwe voorkoms.
31 Mag die majesteit van die Here vir ewig duur; mag die Here Hom verheug in sy werke,
32 Hy wat na die aarde kyk en dit bewe, wat aan die berge raak, en hulle rook.
33 Ek wil vir die Here sing solank ek leef, ek wil my God besing solank ek bestaan.
34 Mag my bepeinsing vir Hom aangenaam wees. Ek, ek sal my verheug in die Here.
35 Mag sondaars van die aarde af verdwyn en goddeloses nie meer bestaan nie. Loof die Here, o my siel! Halleluja!