1Loof die Here, o my siel! Here, my God, U is baie groot; U is met luister en glans beklee,
2U wat Uself met lig omhul, soos in 'n mantel, wat die hemel oopspan soos 'n tentdoek.
3U is die een wat die balke van sy bokamers op die water oprig, wat wolke sy strydwa maak, wat op die vlerke van die wind beweeg;
4wat winde sy boodskappers maak, vlammende vuur sy dienaars;
5wat die aarde op sy fondamente vestig dat dit vir altyd en ewig nie wankel nie.
6Met •oerwater het U dit soos met 'n bokleed bedek; tot bo-oor die berge het die waters gestaan.
7Weens u dreiging het die waters gevlug, weens die geluid van u donder op die vlug geslaan.
8Dit het oor berge gespoel, in valleie afgevloei na die plek wat U daarvoor bestem het.
9'n Grens het U gestel waaroor dit nie mag gaan nie; dit mag nie terugkeer om die aarde te bedek nie.
10Dit is U wat fonteine laat ontstaan in die spruite. Tussen berge vloei dit deur,
11en gee al die diere van die veld water; die wilde donkies les hulle dors.
12Langs die strome is die voëls van die hemel tuis, tussen die digte blare sing hulle.
13U is die een wat die berge laat drink uit sy bokamers; uit die vrug van u arbeid word die aarde versadig.
14Dit is U wat gras laat groei vir die vee en plante vir die mens om te verbou, om voedsel uit die aarde voort te bring:
15wyn wat 'n mens se hart bly maak, olie om die gesig mee blink te maak en brood wat 'n mens se hart versterk.
16Die bome van die Here word versadig, die seders van die Libanon wat Hy geplant het,
17waar voëls nesmaak en ooievaars in sipresse hulle tuiste het.
18Die hoë berge is vir die klipbokke, die rotsskeure is 'n skuilplek vir dassies.
19Hy het die maan gemaak vir feestye; die son weet wanneer hy moet ondergaan.
20U laat die duisternis aanbreek en dit word nag, wanneer al die diere van die bos rondsluip.
21Die jong leeus brul vir prooi, om hulle kos van God te vra.
22As die son opkom, keer hulle terug en gaan rus in hulle lêplekke.
23Mense gaan uit vir hulle dagtaak, vir hulle werk tot die aand toe.
24Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort.
25Daar is die see, groot en na alle kante uitgestrek! Daar wemel dit van ontelbare diere, klein en groot;
26daar vaar die bote, en die Leviatan wat U gemaak het om daarin te speel.
27Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd.
28Gee U vir hulle, raap hulle dit op; maak U u hand oop, word hulle versadig met wat goed is.
29Verberg U u gesig, is hulle angsbevange; neem U hulle asem weg, vergaan hulle en keer terug na die stof wat hulle was.
30Stuur U u asem, word hulle geskape. U gee die oppervlak van die grond 'n nuwe voorkoms.
31Mag die majesteit van die Here vir ewig duur; mag die Here Hom verheug in sy werke,
32Hy wat na die aarde kyk en dit bewe, wat aan die berge raak, en hulle rook.
33Ek wil vir die Here sing solank ek leef, ek wil my God besing solank ek bestaan.
34Mag my bepeinsing vir Hom aangenaam wees. Ek, ek sal my verheug in die Here.
35Mag sondaars van die aarde af verdwyn en goddeloses nie meer bestaan nie. Loof die Here, o my siel! Halleluja!