Lamentations 3
1 Ek is die man wat ellende beleef het deur die slae van die Here se gramskap.
2 Hy het my gedryf, my in die donker laat loop, sonder lig.
3 Ja, Hy het sy hand teen my gelig, telkens weer, die hele dag.
4 Hy het my vleis en vel verteer, my bene gebreek.
5 Hy het my beleër, my omring met bitterheid en moeite.
6 Hy het my in donker plekke laat bly soos dié wat lankal dood is.
7 Hy het 'n muur rondom my gebou, uitkom kan ek nie; Hy het my boeie van brons swaar gemaak.
8 Selfs al skree ek en roep om hulp, sluit Hy Hom af vir my gebed.
9 Met gekapte klip het Hy my pad toegebou, Hy het my paaie laat kronkel.
10 Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke.
11 Hy het my paaie verlê, my braak laat lê, my 'n woesteny gemaak.
12 Hy het sy boog gespan, my as teiken opgestel vir die pyl.
13 Die pyle uit sy koker het Hy in my niere laat indring.
14 Ek word uitgelag deur al my mense; hulle spotlied klink heeldag op.
15 Met bitter kruie het Hy my versadig, my in oormaat wildeals laat drink.
16 Hy het my tande op gruis laat afslyt; Hy het my in die as vertrap.
17 Vrede is my ontneem, die goeie het ek vergeet.
18 Ek het gesê: My toekoms en my hoop op die Here het verdwyn.
19 Dink aan my nood en my swerwersbestaan, aan die wildeals en gif.
20 Wanneer ek diep daaroor nadink, raak ek terneergedruk.
21 Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop:
22 Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie.
23 Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid.
24 My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom.
25 Goed is die Here vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek.
26 Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die Here.
27 Goed is dit vir 'n jong man om 'n juk in sy jeug te dra.
28 Hy moet alleen sit in stilte, want die Here het dit op hom gelê.
29 Hy moet maar sy gesig in die stof hou; miskien is daar hoop.
30 Hy moet sy wang draai na dié wat hom slaan; laat hy versadig word van skande.
31 My Heer verwerp beslis nie die mens vir ewig nie;
32 maar as Hy iemand bedroef het, ontferm Hy Hom met die volle omvang van sy troue liefde.
33 Hy verdruk en bedroef mensekinders teen sy sin.
34 Dat al die gevangenes van die aarde vertrap word;
35 dat die reg van 'n mens voor die Allerhoogste geskend word;
36 dat enige mens se regsaak verydel word – sien my Heer dit nie?
37 Wie sê iets en dit gebeur as my Heer dit nie gebied het nie?
38 Kom sowel die goeie as die slegte nie uit die mond van die Allerhoogste nie?
39 Wat kla 'n mens terwyl hy nog leef, 'n jong man oor die straf op sy sonde?
40 Laat ons ons handelswyse ondersoek en toets, en laat ons na die Here terugkeer.
41 Laat ons ons harte saam met ons hande ophef na God in die hemel.
42 Ons het oortree; ons was opstandig. U het ons nie vergewe nie.
43 U het U in toorn gehul en ons agtervolg; U het genadeloos doodgemaak.
44 U het U afgeskerm met 'n wolk waardeur geen gebed kan dring nie.
45 Uitvaagsels en vullis het U ons gemaak onder die volke.
46 Al ons vyande het hulle mond vol oor ons.
47 Angs en afgrond het ons lot geword, verwoesting en ineenstorting.
48 Uit my oë vloei strome water oor die ineenstorting van die dogter van my volk.
49 Sonder onderbreking, sonder einde, bly my trane loop,
50 totdat die Here uit die hemel neerkyk en dit sien.
51 Hoe pynlik om al die dogters van my stad so te sien!
52 Verbete en sonder rede het my vyande my soos 'n voël gejag.
53 Hulle het my lewe in 'n opgaarput uitgedoof en klippe op my gegooi.
54 Die water het tot oor my kop gestyg en ek het gedink ek is verlore.
55 Ek roep u naam, o Here, uit die diepste put.
56 U het my stem gehoor. Moet tog nie u ore sluit vir my geroep om uitkoms nie.
57 U het na my toe gekom op die dag toe ek na U geroep het. U het gesê: “Moenie bang wees nie.”
58 U, my Heer, het my regsaak behartig; U het my lewe gered.
59 U, Here, het die onreg wat my aangedoen is, gesien; lewer 'n regverdige uitspraak oor my.
60 U het al hulle wraakgierigheid gesien, al hulle planne vir my.
61 U het hulle uittarting gehoor, Here, al hulle planne teen my,
62 alles wat oor my teenstanders se lippe kom, en hulle geskinder oor my die hele dag.
63 Of hulle sit en of hulle opstaan, kyk tog, hulle spotlied gaan oor my.
64 U, o Here, sal hulle volgens die werke van hulle hande vergeld.
65 U maak hulle harte onbeskaamd; mag u vloek oor hulle kom!
66 U sal hulle in toorn vervolg en hulle uitroei onder die hemel van die Here.