Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Lamentations 2

:
Afrikaans - AFR20
1 Ag, hoe het my Heer in sy toorn die dogter van Sion met wolke bedek. Hy het vanuit die hemel die sieraad van Israel op die aarde neergewerp. Hy het op die dag van sy toorn nie eers die voetbank van sy voete ontsien nie.
2 Genadeloos het my Heer al die nedersettings van Jakob verswelg. In sy gramskap het Hy die versterkte stede van die dogter van Juda afgebreek, hulle met die grond gelyk gemaak. Hy het die koninkryk en haar leiers onteer.
3 In sy siedende toorn het Hy die mag van Israel volledig gebreek. Hy het sy regterhand daarvan weerhou om die vyande te keer, en in Jakob het Hy soos 'n vlammende vuur gebrand wat alles rondom hom verteer.
4 Hy het sy boog soos 'n vyand gespan, met 'n ferm regterhand Hy het soos 'n teenstander almal wat kosbaar was, om die lewe gebring. In die tent van die dogter van Sion het Hy sy woede soos 'n vuur uitgestort.
5 My Heer het soos 'n vyand geword; Hy het Israel verswelg. Hy het al haar vestings verswelg en sy versterkte stede vernietig. Hy het verdriet en droefheid by die dogter van Juda laat toeneem.
6 Hy het sy woonplek afgebreek soos 'n skuiling in 'n tuin; sy ontmoetingsplek het Hy vernietig. Die Here het fees en Sabbat in Sion vergete laat raak; in die toorn van sy verontwaardiging het Hy koning en priester geminag.
7 My Heer het sy altaar verwerp; sy heiligdom het Hy verstoot; Hy het die mure van sy vestings in die hand van 'n vyand oorgelewer. Hulle het in die huis van die Here gejuig soos op 'n feesdag.
8 Die Here het beplan om die dogter van Sion se mure te vernietig. Hy het 'n maatlyn gespan, sy hand nie van verdelging weerhou nie; Hy het skans en stadsmuur laat weeklaag saam stort hulle ineen.
9 Haar stadspoorte het in die grond weggesak; Hy het hulle sluitbalke stukkend gebreek. Haar koning en haar leiers leef sonder leiding onder die nasies; selfs haar profete ontvang nie 'n visioen van die Here nie.
10 Swyend sit die oudstes van die dogter van Sion op die grond. Hulle het stof op hulle koppe gestrooi, en rouklere aangetrek. Die jong vroue van Jerusalem het hulle koppe na die aarde af gebuig.
11 My is verblind deur trane; my ingewande gloei. My hart is stukkend oor die ineenstorting van die dogter van my volk, want kinders en babas kwyn weg op die dorpspleine.
12 Hulle vra vir hulle ma's, “Waar is die koring en wyn?” terwyl hulle soos gewondes wegkwyn op die stadspleine, die lewe uit hulle uitvloei in hulle ma's se arms.
13 Wat kan ek vir jou as voorbeeld voorhou, waarmee kan ek jou vergelyk, dogter van Jerusalem? Wat kan ek aan jou gelykstel, sodat ek jou kan vertroos, jong meisie, dogter van Sion? Waarlik, so wyd soos die see is die breuk in jou. Wie kan jou genees?
14 Jou profete se visioene is vir jou nutteloos en niksseggend. Hulle het nie jou skuld ontbloot om jou ballingskap te verhoed nie. Die visioene wat hulle aan jou oorgedra het, was nutteloos en misleidend.
15 Almal wat hier verbyreis, slaan hulle hande oor jou saam; hulle fluit en skud hulle koppe oor die dogter van Jerusalem: “Is dit nou die stad wat mense volmaak mooi noem, 'n vreugde vir die hele aarde?”
16 Al jou vyande het hulle mond vol oor jou; hulle fluit en kners op hulle tande, en sê: “Ons het uitgedelg! Waarlik, dit is die dag waarop ons gewag het ons het dit bereik, ons het dit gesien.”
17 Die Here het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het; Hy het sy woord vervul wat Hy reeds lank gelede bepaal het: Hy het genadeloos uitgeroei en vyande oor jou verbly, jou teenstanders die mag laat verkry.
18 Hulle harte het geroep na my Heer. Muur van die dogter van Sion, laat jou trane dag en nag soos 'n rivier stroom; gun jouself geen rus nie, laat jou nie tot rus kom nie.
19 Staan op, roep in die nag as die nagwake begin. Stort jou hart soos water voor my Heer uit. Lig jou hande op na Hom ter wille van die lewe van jou kinders wat van honger op elke straathoek wegkwyn.
20 Kyk, Here, en sien tog raak aan wie U dit gedoen het! Moet vroue dan hulle vrug, gesonde kinders, eet? Moet priester en profeet dan in die heiligdom van my Heer doodgemaak word?
21 Oud en jonk op die grond in die strate; my jong vroue en my jong manne het deur die swaard geval. U het hulle op die dag van u toorn doodgemaak; U het hulle genadeloos geslag.
22 Van oraloor het U dié wat my bedreig, bymekaargeroep soos op 'n feesdag; en op die dag van die Here se toorn het niemand ontsnap of ontkom nie. My vyand het dié wat ek voortgebring en grootgemaak het, uitgewis.