Lamentations 1
1 Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was. Sy het soos 'n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies. Die prinses onder die provinsies, verrig dwangarbeid.
2 Bedroef huil sy snags, die trane stroom oor haar wange. Daar is niemand onder haar geliefdes wat haar troos nie. Al haar vriende het haar verraai en haar vyande geword.
3 Gebuk onder lyding en geweldige onderdrukking, het Juda in ballingskap gegaan. Sy bevind haar onder die nasies; sy vind geen rus nie. Almal wat haar agtervolg, het haar in haar benoudheid ingehaal.
4 Die paaie na Sion treur, want niemand reis na haar feeste toe nie; al haar poorte is verlate, haar priesters sug. Haar jong meisies is bedroef, en self het sy dit bitter.
5 Haar teenstanders het die oorhand gekry; haar vyande lewe rustig, want die Here het haar laat ly, omdat sy soveel keer oortree het. Haar kinders moes as ballinge voor teenstanders uit loop.
6 Weg is al die luister van die dogter van Sion. Haar leiers het soos rooitakbokke sonder weiding geword, kragteloos het hulle voor hulle agtervolgers uit gevlug.
7 In die tye van nood en omswerwinge onthou Jerusalem alles wat vir haar kosbaar was in die verlede. Toe haar volk in die hand van teenstanders val, was daar vir haar geen helper nie. Die teenstanders het na haar gekyk, hulle het oor haar ondergang gelag.
8 Groot is die sonde van Jerusalem; daarom het sy onrein geword. Almal wat haar geëer het, verag haar, omdat hulle haar naaktheid gesien het. En sy, sy kreun en draai weg.
9 Tot aan haar klere kleef haar onreinheid. Sy het nie gedink aan wat van haar sou word nie. Haar ondergang was verskriklik; daar is niemand wat haar troos nie. Here, kyk tog na my nood, want die vyand is vermetel.
10 Teenstanders het alles wat vir haar kosbaar was, ingepalm; ja, sy moes toekyk hoe die nasies haar heiligdom betree, hulle vir wie U belet het om in u gewyde vergadering te kom.
11 Kreunend soek haar hele volk na kos. Om te oorleef, het hulle hulle kleinode verruil vir iets om te eet. Kyk tog, Here, sien raak hoe ek verag word.
12 Laat dit julle koud, julle almal wat met die pad verbygaan? Sien dit tog raak en kyk! Is daar nog smart soos die smart wat Hy my aangedoen het, wat die Here my op die dag van sy brandende toorn laat ly het?
13 Met vuur uit die hoogte het Hy my gebeente oorweldig. Hy het 'n vangnet vir my voete gespan, my laat terugsteier. Hy het my aan verlatenheid oorgelewer; heeldag voel ek swak.
14 Die juk van my oortredings is swaar, dit is vasgemaak deur sy hand; dit druk op my nek. Hy het my kragte laat ingee; my Heer het my oorgegee in die hande van diegene teen wie ek geen weerstand kan bied nie.
15 My Heer het al my sterk manne binne-in my byeen gejaag – Hy het 'n feestyd oor my uitgeroep vir die slagting van my jong soldate. My Heer het die jongmeisie, die dogter van Juda, in die parskuip vertrap.
16 Aanhoudend huil ek hieroor, my oë stroom van trane, want die trooster wat my kon opbeur, is ver van my af. My kinders is verpletter, want die vyand het die oorhand verkry.
17 Sion strek haar hande uit, maar daar is niemand om haar te troos nie. Die Here het almal om Jakob teen hom opgeroep as sy teenstanders. Jerusalem het tussen hulle 'n onrein vrou geword.
18 'n Regverdige is die Here; ja, ek het teen sy woord gerebelleer. Luister tog, alle volke, en sien my smart raak; my jong vroue en jong manne het in ballingskap gegaan.
19 Ek het geroep na dié wat my liefhet, maar hulle het my in die steek gelaat. My priesters en oudstes het in die stad omgekom toe hulle na kos gesoek het om te oorleef.
20 Kyk, ek is benoud, Here, my ingewande gloei. In my krimp my hart ineen, want ek was baie opstandig. Buite maai die swaard af, en in die huis is dit soos die dood.
21 Hulle hoor dat ek kreun, maar niemand troos my nie. Al my vyande hoor van my rampspoed; hulle juig omdat U dit veroorsaak het. Laat kom die dag wat U bepaal het, sodat dit met hulle kan gaan soos met my.
22 Laat al hulle boosheid voor U kom, en doen aan hulle wat U aan my gedoen het oor al my oortredings. Ja, ek sug baie en my hart is ontsteld.