Lamentations 4AFR20

1Ag, hoe het die goud sy glans verloor, die suiwer goud verdof; die heilige edelstene lê rondgestrooi op al die straathoeke.

2Die kosbare kinders van Sion, hulle was hulle gewig in fyngoud werd; ag, nou word hulle gereken as kleipotte, maaksels van 'n pottebakker se hande!

3Selfs jakkalse laat drink, hulle soog hulle kleintjies; die dogter van my volk het wreed geword, soos volstruise in die woestyn.

4Van dors kleef die tong van die suigeling aan sy verhemelte vas; kinders bedel brood, maar niemand breek dit vir hulle nie.

5Hulle wat lekkernye geëet het, vergaan in die strate; hulle wat met skarlaken grootgeword het, omhels nou ashope.

6Die skuld van die dogter van my volk was erger as die sondes van Sodom – Sodom, wat in 'n oogwink vernietig is, sonder menslike toedoen.

7Die vorste van Sion was helderder as sneeu en witter as melk; hulle liggame was rooier as koraal, hulle voorkoms soos •lasuursteen.

8Hulle is nou swarter as roet en word nie op straat herken nie; hulle vel verskrompel aan hulle gebeente, dit is uitgedor soos hout.

9Hulle wat deur die swaard getref word, is beter daaraan toe as hulle wat deur hongersnood getref word, ja, hulle wat wegkwyn, wat ly vanweë die gebrek aan opbrengs van die landerye.

10Die hande van liefdevolle vroue het hulle kinders gekook; hulle het hulle voedsel geword toe die dogter van Sion ineengestort het.

11Die Here het sy woede laat uitwoed, sy brandende toorn uitgestort; Hy het 'n vuur in Sion aangesteek wat haar fondamente vernietig het.

12Die konings van die aarde, ook al die bewoners van die wêreld, kon nie glo dat teenstanders en vyande die poorte van Jerusalem sou binnedring nie.

13Dit was die gevolg van die sonde van haar profete en die skuld van haar priesters, hulle wat die bloed van regverdiges daar vergiet het.

14Blind het hulle deur die strate gestrompel, met bloed besoedel; niemand kon aan hulle klere raak nie.

15“Gaan weg, •onreines!” het die mense vir hulle geskreeu. “Gaan weg! Gaan weg! Moenie aanraak nie!” Toe hulle op die vlug geslaan het, ja, toe hulle onder die nasies rondgeswerf het, het die mense gesê: “Hulle mag nie meer hier bly nie!”

16Die Here self het hulle verstrooi, Hy sien nie meer na hulle om nie. Priesters word nie gerespekteer nie; vir die oudstes is daar geen genade nie.

17Met oë wat dof raak, het ons bly uitsien na hulp – maar tevergeefs; in ons wagtorings het ons bly uitkyk vir 'n nasie – wat nie kan red nie.

18Ons kon nie 'n tree gee sonder dat hulle op ons jag maak nie; ons kon nie op straat verskyn nie. Ons einde was naby, ons dae was getel; ja, ons einde het aangebreek.

19Ons agtervolgers was vinniger as arende in die lug; oor die berge het hulle op ons hakke gebly, in die woestyn het hulle ons voorgelê.

20Ons lewensasem, die gesalfde van die Here, is in hulle vangkuile gevang – die een in wie se skadu ons gedink het ons onder die nasies sou leef!

21Wees maar vrolik en bly, dogter van Edom wat woon in die land Us; ook aan jou sal die beker gegee word, jy sal dronk word en jouself ontbloot.

22Jou skuld is vereffen, dogter van Sion, Hy sal jou nie weer in ballingskap laat gaan nie. Vir jou skuld sal Hy jou laat betaal, dogter van Edom, Hy gaan jou sonde blootlê.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Lamentations 4.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.