1Onthou, Here, wat met ons gebeur het; kyk tog, en sien ons vernedering raak!
2Ons erfenis is oorhandig aan vreemdes, ons huise aan buitelanders.
3Weeskinders het ons geword – ons is sonder 'n vader; ons moeders is soos weduwees.
4Ons betaal vir ons drinkwater; ons hout kom teen 'n prys.
5Ons agtervolgers blaas in ons nekke; ons is uitgeput, ons word nie rus gegun nie.
6Ons moes 'n verdrag sluit met Egipte, ook met Assirië, om met brood versadig te word.
7Ons voorouers het gesondig; hulle is nie meer daar nie, maar ons dra hulle skuld.
8Slawe heers oor ons; niemand red ons uit hulle hand nie.
9In lewensgevaar verkry ons ons brood, weens die swaard in die woestyn.
10Ons vel gloei soos 'n oond; ons brand van honger.
11Vroue is in Sion verkrag, jong meisies in die stede van Juda.
12Vorste is aan hulle hande opgehang; oudstes is met minagting behandel.
13Jong manne moet met meulstene werk; jong seuns steier onder hout.
14Oudstes het uit die stadspoort verdwyn, ook die jong manne se snarespel.
15Vreugde het verdwyn uit ons hart; ons dans het in roubeklag verander.
16Die kroon het van ons kop geval. Wee ons, want ons het gesondig.
17Hieroor het ons hart gebreek, hieroor het ons oë dof geword:
18oor die berg Sion verlate is, oor jakkalse daar ronddwaal.
19U, Here, U heers vir ewig. U troon is van geslag tot geslag.
20Waarom vergeet U ons vir altyd, waarom verlaat U ons vir goed?
21Bring ons terug na U toe, Here, sodat ons kan terugkeer; maak ons dae nuut soos voorheen,
22tensy U ons heeltemal verwerp het, tensy U uitermate woedend vir ons is.