Amos 3ABA

1Mense van Israel, die Here het julle almal uit Egipte gebring. Luister wat sê Hy vir julle:

2“Daar is baie volke op die aarde, maar dit is vir julle wat Ek gekies het. Daarom sal Ek julle straf oor alles wat julle verkeerd doen.”

3Twee mense besluit eers dat hulle saam wil loop, en dan doen hulle dit.

4'n Leeu in die bos vang eers iets, en dan brul hy.

5Iemand sit eers 'n vangstrik op die grond, en dan vang hy 'n voël daarin. 'n Vangstrik vang eers iets, en dan klap dit toe.

6Wanneer iemand die ramshoring in die stad blaas om te sê die vyand kom, dan skrik die mense. Wanneer die Here sê dit moet sleg gaan in 'n stad, dan gebeur dit.

7Ja, die Here sê eers vir sy dienaars, die profete, wat Hy wil doen, en dan doen Hy dit.

8Wanneer die leeu gebrul het, dan is die mense bang. Wanneer die Here gepraat het, dan moet sy profeet praat.

9Die Here sê: “Julle moet gaan praat met die mense in die mooi huise van die stad Asdod en die land Egipte. Julle moet vir hulle sê: ‘Kom bymekaar op die berge rondom die stad Samaria. Kom kyk hoe swaar kry die mense in die stad.’ ”

10Die Here sê: “Die mense se mooi huise is vol goed wat hulle van ander mense gesteel het. Hulle weet nie hoe om reg te doen nie.

11Daarom, daar is vyande rondom die land! Hulle sal julle sterk mure afbreek en hulle sal alles in julle mooi huise vir hulleself vat.”

12Die Here sê: “Wanneer 'n leeu 'n skaap vang, dan kan die skaapwagter miskien net twee pootjies of 'n stukkie van die skaap se oor gryp uit die leeu se bek. So sal daar ook baie min oorbly van die mense van Israel wat nou so rustig in Samaria op hulle beddens en rusbanke lê.”

13Die Here wat oor alles regeer, sê: “Julle moet luister en julle moet die mense van Israel waarsku.

14Wanneer Ek die mense van Israel straf oor hulle sondes, dan sal Ek die altare in die stad Bet-El afbreek. Ek sal die altaar se horings afkap en op die grond gooi.

15Ek sal die huise plat slaan, die huise waarin hulle in die somer woon, en die huise waarin hulle in die winter woon. Daar sal niks oorbly van die huise wat hulle met ivoor mooi gemaak het nie. Daar sal niks oorbly van die baie huise nie,” sê die Here.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Amos 3.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.