1Die Here sê: “Die mense van Moab het 'n baie groot sonde gedoen, daarom sal Ek hulle straf. Hulle koning het die koning van Edom se bene verbrand om kalk te maak.
2Daarom sal Ek 'n vuur stuur na die land Moab. Die mooi huise van die stad Kerijot sal afbrand. Hulle vyande sal hard skree, hulle sal brul soos leeus en hulle sal die ramshoring blaas. Hulle sal oorlog maak teen Moab, en die Moabiete sal sterf.
3Ek sal die koning van Moab en al sy amptenare saam met hom doodmaak.” Dit is wat die Here gesê het.
4Die Here sê: “Die mense van die land Juda het 'n baie groot sonde gedoen, daarom sal Ek hulle straf. Die wet van die Here was nie vir hulle belangrik nie. Hulle het nie gedoen wat die Here gesê het nie. Hulle voorvaders het vals gode aanbid, en daarom het die mense van Juda verkeerd gedoen.
5Daarom sal Ek 'n vuur stuur na die land Juda, en die mooi huise van die stad Jerusalem sal afbrand.”
6Die Here sê: “Die mense van Israel het 'n baie groot sonde gedoen, daarom sal Ek hulle straf. Hulle het onskuldige mense verkoop om geld te kry, en die mense het slawe geword. Hulle het arm mense verkoop omdat die arm mense geld geskuld het vir 'n paar sandale.
7Hulle trap die arm mense se koppe in die grond in. Hulle doen nie reg aan die mense wat niks het nie. 'n Jongman en sy pa slaap by dieselfde slawe-meisie, en so ontwy hulle my heilige Naam.
8Hulle vat die klere van mense wat vir hulle geld skuld en gaan lê op daardie klere by die altare. Hulle laat mense boete betaal met wyn, en dan drink hulle die wyn in die huis van hulle God.
9“Die Amoriete was lang mense. Hulle was so hoog soos sederbome en so sterk soos eikebome. Maar Ek het al die Amoriete doodgemaak, die ouers en die kinders. Ek het dit gedoen om vir die mense van Israel 'n plek te gee waar hulle kan woon.
10Ja, Ek het julle uit Egipte gebring en 40 jaar lank saam met julle deur die woestyn gegaan sodat julle die Amoriete se land kon vat.
11Ek het party van julle seuns gekies om profete te wees, en Ek het party van julle jongmanne gekies om nasireërs te wees. “Is dit waar of is dit nie waar nie, mense van Israel?
12“Maar julle het die nasireërs wyn laat drink, en julle het vir die profete gesê hulle mag nie profete wees nie.
13Daarom sal Ek julle straf, julle sal inmekaar val soos 'n wa inmekaar val wanneer mense te veel koring-gerwe daarop laai.
14Mense wat vinnig kan hardloop, sal nie kan weghardloop nie. Sterk mense sal nie sterk genoeg wees nie. Soldate sal hulleself nie kan red nie.
15Mense wat met pyl en boog skiet, sal weghardloop. Ook mense wat vinnig kan hardloop, sal nie kan vlug nie. Mense wat op perde ry, sal hulleself nie kan red nie.
16Almal sal daardie dag kaal wegvlug, ook die dapperste soldate.” Dit is wat die Here gesê het.