Psalms 96
1 Sing vir die Here ’n nuwe lied! Sing vir die Here, almal op aarde!
2 Sing vir die Here, loof sy Naam! Verkondig sy verlossing dag na dag.
3 Vertel die nasies van sy heerlikheid, aan al die volke van sy wonderdade.
4 Groot is die Here; lof kom Hom toe! Hý moet gedien word bo alle gode.
5 Die gode van die volke is niks, die Here het die hemele gemaak!
6 Heerlikheid en majesteit is voor Hom; krag en glans is in sy heiligdom.
7 Erken die Here, geslagte van die aarde, erken die Here vir sy heerlikheid en mag.
8 Erken die Here vir die roem van sy Naam! Bring offers vir Hom en kom na sy voorhowe.
9 Aanbid die Here in sy heilige glans. Laat die hele aarde voor Hom bewe.
10 Vertel aan die nasies: “Die Here regeer! Die wêreld staan vas en sal nie wankel nie.” Sy oordeel oor volke is regverdig.
11 Laat die hemele verheug wees, laat die aarde bly wees. Laat die see druis en ook alles daarin.
12 Laat die velde jubel en alles daarop! Laat die bome van die bos juig
13 voor die Here. Want die Here kom! Hy kom om die aarde te oordeel. Hy sal die wêreld oordeel met regverdigheid, en die nasies met sy betroubaarheid.