1***
2Here, ek sal U prys met my hele hart. Ek sal vertel van al u wonderlike dade.
3Ek sal juig in die vreugde wat U gee. Ek sal u Naam prys, o Allerhoogste.
4Wanneer my vyande omdraai en vlug, sal hulle voor U struikel en vernietig word.
5Want U het in my guns beslis; U het op u troon as regter regverdig geoordeel.
6U het die nasies berispe en die goddeloses vernietig; U het hulle name vir altyd uitgevee.
7Die vyande se ondergang het gekom; hulle stede is puinhope vir altyd. Niemand kan hulle meer onthou nie.
8Maar die Here regeer vir altyd, sy troon het Hy vir regspraak ingerig.
9Hy sal die wêreld met regverdigheid oordeel, en in billikheid oor die volke regspreek.
10Die Here is ’n skuilplek vir die onderdrukte, ’n toevlug in tye van moeilikheid.
11Dié wat u Naam bely, vertrou op U, want niemand wat U soek, laat U in die steek nie, Here.
12Sing lofliedere vir die Here wat op Sion woon, vertel van sy dade onder die volke.
13Want Hy wat bloedvergieting wreek, gee om vir hulpelose mense. Hulle wat tot Hom roep in nood, dié vergeet Hy nie.
14Here, wees my genadig. Kyk na die ellende wat haters my aangedoen het! Ruk my uit die poorte van die dood
15sodat ek u dade bekend kan maak, U kan prys in die poorte van Sion, en kan jubel omdat U my gered het.
16Die nasies het geval in die gat wat hulle gegrawe het. Hulle voete is in hulle eie net gevang.
17Die Here is bekend vir sy regverdige oordeel. Die goddeloses is gevang met hulle eie handewerk. Higgajon Sela
18Die goddeloses is op pad na die graf soos al die nasies wat God vergeet.
19Want die behoeftiges word nie vir altyd vergeet nie, en die hoop van die armes sal nie vir altyd vernietig word nie.
20Staan tog op, Here! Moenie dat mense U teëstaan nie! Laat die nasies voor U teregstaan.
21Here, laat hulle bewe van angs en besef hulle is maar net mense. Sela