1Here, waarom staan U so ver weg? Hoekom verberg U Uself in tye van nood?
2Bose mense vol verwaandheid vervolg die ellendiges. Laat hulle gevang word in die planne wat hulle vir ander bedink.
3Want die goddelose spog met sy bose begeertes; hy seën die inhaliges en vervloek die Here.
4Hierdie bose mens is te trots om God te soek. In al sy beplannings is daar geen plek vir God nie.
5Hy is suksesvol in alles wat hy doen. U oordele is vir hom buite sig. Minagtend lag hy oor al sy vyande.
6Hy sê vir homself: “Geen onheil sal my ooit tref nie! Geslag na geslag sal ek vry wees van rampe!”
7Sy mond is vol vervloeking, leuens en geweld, onheil en boosheid is op sy tong.
8Hy lê in ’n hinderlaag by die dorpe om mense in die geheim te vermoor, hy bly op die uitkyk na onskuldige slagoffers.
9Hy lê doodstil in ’n hinderlaag soos ’n leeu in sy lêplek, hy wag in die hinderlaag om hulpeloses aan te val. Hy vang die ellendiges en trek hulle met sy net.
10Die hulpelose is oorrompel en stort ineen; hy val onder die aanslag van die kwaadwilliges.
11Hy wat kwaad doen, sê vir homself: “God het vergeet, Hy kyk tog nie en sal dit nooit raaksien nie!”
12Staan op, Here! Tree op teen die goddeloses, o God! Moenie die hulpeloses vergeet nie!
13Hoekom verag die goddelose vir God en sê by homself: “Hy sal tog nie rekenskap eis nie”?
14Maar U sien die moeilikheid en leed wat hulle veroorsaak, ja, U, U sien dit raak en tree teen hulle op. Die hulpeloses vertrou op U, die beskermer van die weeskind.
15Breek die greep van die goddelose, dié wat kwaad bewerk! Roep hom tot verantwoording oor sy bose dade totdat U hom nie meer vind nie.
16Die Here is koning vir altyd! Die nasies is uit sy land verdryf.
17Here, U hoor die smeking van die hulpeloses. U sal hulle gerusstel en hulle gebede verhoor.
18U spreek reg oor wese en verdruktes sodat mense hulle nie meer verskrik nie.