Psalms 89NLV

1***

2Ek wil altyd sing van die goedheid van die Here. Ek wil, geslag na geslag, sy getrouheid bekendmaak.

3Ek het gesê: “U troue liefde sal vir altyd duur. U getrouheid is so standvastig soos die hemel.”

4U het gesê: “Ek het ’n verbond gesluit met my uitverkorene. Ek het ’n eed afgelê vir Dawid, my dienaar:

5‘Ek sal jou nageslag vir altyd as konings vestig, en jou troon bou van geslag tot geslag.’” Sela

6Here, die hemel prys u wondermag; die hemelse wesens prys u trou.

7Want wie in die hemel kan met die Here vergelyk word? Wie onder die hemelse wesens is soos die Here?

8In die hemelse vergadering is daar groot ontsag vir God. Hy is meer ontsagwekkend as hulle wat Hom omring.

9Here, God die Almagtige, wie is magtig soos U, Here? U is omring deur u getrouheid.

10U heers oor die bruisende oseane. As die golwe styg, laat U dit bedaar.

11U het vir Rahab vernietig, met u sterke arm u vyande verdryf.

12Aan U behoort die hemel, die aarde is u besitting, die wêreld en alles daarin — dit alles het U gemaak.

13U het noord en suid gemaak, Tabor en Hermon prys u Naam.

14U arm is toegerus met mag, u hand is sterk, u regterhand is omhoog!

15Geregtigheid en reg is die fondament van u troon. Onfeilbare trou en waarheid is tot u diens.

16Geseënd is hulle wat U met vreugde dien, wat lewe in die lig van u teenwoordigheid, Here.

17Hulle juig die hele dag oor u Naam, is verheug oor u regverdigheid.

18U is hulle kragtige roem. Deur u goedheid is ons sterk.

19Die Here is ons beskermer, die Heilige van Israel is ons koning.

20Voorheen het U deur ’n visioen met hulle wat aan U getrou is, gepraat en gesê: “Ek het hulp verleen aan ’n krygsman. Uit die gewone mense het Ek die uitverkore een verhef.

21Ek het my dienskneg Dawid gevind. Met heilige olie het Ek hom gesalf.

22Met my hand sal Ek hom ondersteun, met my arm sal Ek hom sterk maak.

23Vyande sal hom nie onderwerp nie, goddeloses sal hom nie verdruk nie.

24Ek sal sy vyande voor hom verpletter en sy haters verslaan.

25My trou en liefde sal met hom wees, en deur my Naam sal hy oorwin.

26Ek sal sy mag uitbrei tot by die see, en tot by die riviere.

27Hy sal vir My sê: ‘U is my Vader, my God, die rots van my redding.’

28Ek sal hom my eersgeborene maak, die magtigste koning op aarde.

29Ek sal vir altyd aan hom my trou betoon; my verbond met hom vas laat staan.

30Ek sal ’n opvolger vir altyd bepaal; sy troon sal wees sonder einde, so lank as wat die hemel bestaan.

31Maar as sy seuns my gebooie nalaat en nie in my weë wandel nie,

32as hulle nie my bepalings navolg, nie my bevele gehoorsaam nie,

33dan sal Ek hulle eiesinnigheid straf, hulle oortredings swaar bestraf.

34Maar my liefde vir hom sal nooit ophou nie, en my trou aan hom sal Ek nie wegneem nie.

35Ek sal my verbond nie verbreek nie, en wat Ek beloof het, nie verander nie.

36Ek het by my heiligheid ’n eed afgelê, en my belofte aan Dawid sal Ek nie verbreek nie.

37Sy nakomelinge sal altyd daar wees, en sy troon sal blywend wees soos die son.

38Soos die maan is dit daar vir altyd, ’n getroue getuie in die lug!” Sela

39Maar U het hom verwerp en verstoot. U was kwaad vir u gesalfde.

40U het u verbond met hom laat vaar, U het sy kroon op die grond vertrap.

41U het al sy stadsmure afgebreek en sy vestings in puinhope verander.

42Elkeen wat verbykom, beroof hom, terwyl sy bure hom bespot.

43U het sy vyande laat triomfeer, al sy teenstanders laat jubel.

44U het sy swaard nutteloos gemaak, hom nie bygestaan in die geveg nie.

45U het sy grootsheid beëindig en sy troon op die grond gegooi.

46U het hom oud voor sy tyd gemaak en hom met vernedering oordek. Sela

47Hoe lank nog, Here? Sal U Uself vir altyd verberg, en u toorn soos vuur laat brand?

48Dink tog hoe verganklik is die lewe. Is die skepping van die mens dan ’n nuttelose daad?

49Watter mens kan lewe sonder om die dood te sien? Wie kan homself red uit die mag van die doderyk? Sela

50Here, waar is u liefde van vroeër wat U in u trou met ’n eed aan Dawid beloof het?

51Dink tog, Here, aan die vernedering van u dienaars, hoe ek in my hart die beledigings van baie volke dra.

52Hulle wat spot, is u vyande, Here, hulle bespot elke tree van u gesalfde.

53Lof aan die Here vir altyd! Amen, ja, amen!

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Psalms 89.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.