1Here, U was ons toevlug van geslag tot geslag.
2Voordat die berge gebore is en U die wêreld voortgebring het, van ewigheid tot ewigheid, is U God.
3U laat mense weer terugkeer tot stof, en sê: “Keer terug, mensekinders!”
4Vir U is duisend jaar soos gister wat verbygaan, soos ’n nagwaak wat gou verby is!
5U vee mense weg soos drome wat verdwyn, soos gras wat in die oggend opkom:
6Soggens skiet dit op en groei, in die aand verdroog dit en verwelk.
7Inderdaad, ons kwyn weg onder u toorn; ons is oorweldig deur u woede.
8Ons sondes is oop en bloot voor U, ons geheime sondes word bekend in die lig van u teenwoordigheid.
9Al ons dae gaan verby onder u toorn, ons eindig ons lewe soos ’n sug.
10Die getal van ons jare kan 70 wees, of as ons sterk is, 80. Maar selfs die beste daarvan is vol swaarkry en verdriet. Die lewe is gou verby, en ons bestaan nie meer nie.
11Wie ken die krag van u toorn? Wie ken die vrees van u woede?
12Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom.
13Kom terug, Here! Hoe lank gaan U nog uitstel? Ontferm U tog oor u dienaars!
14Vul ons met u genade in die oggend, dan sing ons van vreugde al ons dae.
15Gee ons vreugde na al ons lyding, na al die jare van onheil wat ons beleef het.
16Laat al u dienaars u werke sien, en hulle kinders u heerlikheid.
17En mag die Here ons God sy goedheid aan ons bewys, en die werk van ons hande bevestig. Ja, bevestig die werk van ons hande!