Psalms 86
1 Luister tog na my gebed, Here! Antwoord my, want ek is arm en ellendig.
2 Beskerm my, want ek is getrou aan U. Red my, want ek is u dienaar. U is my God op wie ek vertrou.
3 Wees my genadig, Here, want die hele dag roep ek tot U.
4 Gee tog vir my blydskap, want na U is my verlange, Here.
5 U is waarlik goed, Here, U vergewe. U is vol liefde vir almal wat by U hulp soek.
6 Luister goed na my gebed, Here, gee tog ag op my hulpgeroep.
7 In tye wanneer ek in nood is, sal ek U aanroep, want U sal my antwoord.
8 Daar is nie ’n god soos U nie, Here. Niemand kan u werke naboots nie.
9 Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U neerbuig, Here; hulle sal u Naam verheerlik.
10 Want U is groot en doen wonderdade. U alleen is God.
11 Leer my u weë, Here, sodat ek in u waarheid kan wandel. Gee my ’n onverdeelde trou om so u Naam te dien.
12 Met my hele hart sal ek U prys, Here, my God. Ek sal u Naam vir altyd verheerlik,
13 want u liefde vir my is baie groot. U het my uit die doderyk gered.
14 O God, verwaande mense het my aangeval. Geweldenaars wil my doodmaak, mense met geen agting vir U nie.
15 U, Here, is barmhartig en genadig, U is stadig om kwaad te word, vol liefde en trou.
16 Sien my raak en wees my genadig. Gee sterkte aan u dienaar, red die seun van u dienares.
17 Stuur my ’n teken van u guns. My haters sal toekyk en verslae wees, want U, Here, help en vertroos my.