Psalms 81
1 ***
2 Jubel tot eer van God, ons sterkte! Jubel tot eer van die God van Jakob!
3 Sing! Slaan die tamboeryn! Laat hoor die klank van lier en harp!
4 Blaas die ramshoring op nuwemaan en wanneer dit volmaan is, op die dag van ons fees!
5 Want dit is die instelling vir Israel, die voorskrif van die God van Jakob.
6 Dit is as ’n herinnering vir Josef bepaal toe God teen Egipte opgetrek het. Ek het in ’n vreemde taal gehoor:
7 “Die las op jou skouer het Ek afgehaal; jou hande kon die mandjie los.
8 In nood het jy geroep, en Ek het jou gered; uit ’n donderwolk het Ek geantwoord. By die waters van Meriba het Ek julle op die proef gestel. Sela
9 “Luister, my volk, Ek wil julle waarsku. Israel, as julle maar net na My wou luister!
10 Julle mag nie ’n ander god dien, of voor ’n vreemde god buig nie.
11 Want Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte gebring het. Maak julle mond wyd oop, dan sal Ek dit vol maak.
12 “Maar nee, my volk het nie geluister nie. Israel wou niks van My weet nie.
13 Daarom het Ek hulle laat begaan, hulle prysgegee aan hulle koppigheid om te doen volgens hulle eie begeerte.
14 Ag, as my volk maar na My wou luister! As Israel net my weg wou volg!
15 Dan sal Ek gou hulle vyande onderwerp, hulle aanvallers eiehandig verslaan!”
16 Mag hulle wat die Here haat, voor Hom kruip. Mag hulle onderwerping vir altyd geld.
17 Maar Hy sal julle versadig met die beste koring. Ek sal julle versadig met heuning uit ’n rots.