1O God, heidense nasies het gekom, en u eie erfdeel binnegeval. Hulle het u heilige tempel verontreinig en Jerusalem ’n puinhoop gemaak.
2Hulle het die lyke van u dienaars vir die voëls gegee om te vreet, die vleis van u getroues was kos vir wilde diere.
3Hulle bloed het soos water rondom Jerusalem gevloei, en daar was niemand om hulle te begrawe nie.
4Ons is ’n bespotting vir ons bure, verag en gespot deur almal om ons.
5Hoe lank nog, o Here? Sal U vir altyd kwaad wees? Sal u jaloesie brand soos vuur?
6Stort u toorn uit oor die nasies wat weier om U te erken en oor koninkryke wat u Naam nie aanroep nie.
7Want hulle het Jakob verslind, en sy woonplek verwoes.
8Moenie die sondes van ons voorouers teen ons hou nie. Ontferm U gou oor ons, want ons is baie mismoedig.
9God van ons verlossing, help ons, red ons tog ter wille van die eer van u Naam, en vergewe ons sondes ter wille van u Naam.
10Hoekom sou die nasies spot en vra: “Waar is hulle God?” Laat ons sien hoe U die nasies vergeld weens die bloedvergieting wat hulle oor u dienaars gebring het.
11Luister na die versugting van hulle wat gevange geneem is. Gebruik u groot krag en red hulle wat die dood in die gesig moet staar.
12Vergeld ons bure sewe maal, Here, oor die veragting wat hulle teen U geslinger het.
13Dan sal ons, u volk, die skape van u weiding, U vir altyd dank, en U prys van geslag tot geslag.