1O my volk, luister na my lering. Gee ag op wat ek sê,
2want ek wil julle onderrig met ’n psalm. Ek wil julle lesse leer uit die verlede.
3Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons voorgeslagte ons vertel het,
4verswyg ons nie vir ons kinders nie, maar vertel vir die volgende geslag van die roemryke dade van die Here, van sy krag en van sy wonderdade.
5Hy het voorskrifte aan Jakob gegee, en sy gebooie aan Israel. Hy het ons voorouers beveel om dit aan hulle kinders te leer
6sodat die volgende geslag dit kan ken, en selfs die ongebore kinders weer húlle kinders kan leer.
7So sal hulle op God kan hoop, die werke van God nie vergeet nie, maar sy bevele gehoorsaam
8en nie soos hulle voorouers wees nie. Hulle is ’n ongehoorsame, opstandige geslag, wie se hart nie getrou was nie, wie se gees ontrou was aan God.
9Die Efraimiete was goed bewapen, met boogskutters in hulle leër. Maar op die dag van die geveg het hulle omgedraai.
10God se verbond het hulle nie gehou nie, en hulle het geweier om volgens sy voorskrifte te lewe.
11Hulle het sy dade vergeet, die wonders wat Hy hulle gewys het,
12en die wonders wat God gedoen het voor die oë van hulle voorouers in Egipte en in die vlaktes van Soan.
13Die see het Hy oopgekloof en hulle laat deurtrek. Hy het die water soos mure laat staan.
14Bedags het Hy hulle met ’n wolk gelei, en snags met ’n lig van vuur.
15In die woestyn het Hy rotse gekloof, hulle laat drink asof uit diepwaters.
16Hy het waterstrome uit die rots laat vloei, die water soos riviere laat stroom.
17Tog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, en in die woestyn in opstand gekom teen Hom, die Allerhoogste.
18Met opset het hulle God beproef, en kos geëis na eie smaak.
19Hulle het God uitgedaag en gesê: “Kan God kos gee in die woestyn?
20Toe Hy ’n rots geslaan het, het daar water uitgekom en strome het gevloei, maar kan Hy ook brood verskaf en vleis gee vir sy volk?”
21Toe die Here dit hoor, was Hy baie kwaad. ’n Vuur het teen Jakob ontbrand; sy toorn het teen Israel ontvlam,
22want hulle het God nie geglo nie, en nie op sy verlossing vertrou nie.
23Hy het die wolke daarbo beveel, die hemele se deure oopgemaak,
24Hy het manna op hulle laat reën om te eet, uit die hemel brood vir hulle gegee.
25Kos van engele het hulle geëet, kos in oorvloed het God gegee.
26Hy het die oostewind uit die hemel losgelaat, en deur sy groot krag die suidewind laat waai.
27Hy het vleis oor hulle soos sand laat reën, voëls soos die sand van die seestrand.
28Hy het dit in hulle kamp laat val, oral rondom hulle tente.
29Hulle het meer as genoeg geëet. Hy het gegee wat hulle gevra het.
30Maar hulle honger was nog nie gestil nie. Met die kos nog in hulle mond,
31het die toorn van God hulle getref. Hy het die sterkste manne neergevel, en die room van Israel neergeslaan.
32Tog het hulle aanhou sondig, en geweier om in sy wonders te glo.
33Daarom het Hy hulle dae in nietigheid tot ’n einde laat kom, en hulle jare in onheil.
34Wanneer God sommige van hulle laat omkom, het hulle weer na sy wil gevra. Dan het hulle berou getoon en ywerig na God toe teruggekom.
35Hulle het onthou God is hulle rots, en die Allerhoogste hulle verlosser.
36Maar met die mond het hulle Hom bedrieg; en met die tong vir Hom gelieg.
37Hulle hart was ontrou aan Hom, sy verbond het hulle nie gehou nie.
38Tog was Hy genadig en het hulle sondes vergewe en nie hulle almal vernietig nie. Dikwels het Hy sy toorn teruggehou en sy woede nie losgelaat nie.
39Want Hy het daaraan gedink dat hulle sterflinge is, ’n asempie wat spoedig verdwyn en nooit weer terugkom nie.
40Hoe dikwels het hulle in die woestyn teen Hom in opstand gekom, en het hulle in die woesteny sy hart bedroef!
41Weer en weer het hulle God getart en die Heilige van Israel gepynig.
42Hulle het vergeet van sy mag, van die dag toe Hy hulle verlos het van die vyand,
43toe Hy sy tekens in Egipte getoon het, en sy wonders in die veld by Soan.
44Hy het hulle riviere in bloed verander sodat niemand uit hulle strome kon drink nie.
45Hy het muggies gestuur om hulle te byt, en paddas om hulle te verwoes.
46Hy het hulle oeste aan sprinkane gegee; hulle hele opbrengs is opgevreet.
47Hy het hulle wingerde met hael verwoes en hulle wildevyebome met ryp verniel.
48Hy het die vee aan hael oorgegee, hulle skape aan weerligstrale.
49Hy het sy toorn teen hulle losgelaat: woede, gramskap en ellende was vir U hulle boodskappers van onheil.
50Dit was ’n weg vir sy toorn: Hy het hulle lewens nie gespaar nie, maar hulle oorgegee aan die pes.
51Al die eersgeborenes in Egipte het Hy getref, al die oudste seuns in die wonings van Gam.
52Maar sy eie volk het Hy soos skape uitgelei, en soos ’n kudde skape hulle deur die woestyn gelei.
53Hy het hulle veilig gelei sodat hulle nie bang was nie, maar hulle vyande is deur die see oorweldig.
54Hy het hulle gebring na ’n gebied wat Hy afgesonder het, na die bergland wat Hy deur sy mag verower het.
55Hy het nasies voor hulle uit verdryf, die land as erfdeel aan hulle gegee, en die stamme van Israel in hulle woonplekke gevestig.
56Hulle het egter die Allerhoogste beproef, teen Hom in opstand gekom, en sy gebooie nie gehoorsaam nie.
57Hulle was afvallig en ontrou net soos hulle voorouers. Hulle was net so onbetroubaar soos ’n onbruikbare boog.
58Hulle het God ook kwaad gemaak met afgodsdiens op die hoogtes. Met hulle afgodsbeelde het hulle Hom uitgetart.
59Toe God dit hoor, was Hy kwaad. Hy het Israel heeltemal verwerp.
60Hy het die tabernakel in Silo verlaat. Dit was sy tentwoning onder mense.
61Hy het sy magtige ark prysgegee, sy glorie in die hande van vyande.
62Hy het sy volk uitgelewer aan die swaard, want vir sy besondere eiendom was Hy kwaad.
63Hulle jong manne is deur vuur verteer, vir hulle jong meisies is geen huwelikslied gesing nie.
64Hulle priesters het deur die swaard geval en hulle weduwees kon nie rou nie.
65Toe het die Here ontwaak soos iemand uit sy slaap, soos ’n sterk man ontwaak uit die bedwelming van wyn.
66Hy het sy vyande teruggedryf en vir altyd aan skande oorgegee.
67Hy het Josef se nageslag verwerp; die stam van Efraim het Hy nie gekies nie.
68Maar die stam van Juda het Hy gekies, vir Sionsberg, wat Hy liefhet.
69Hy het sy heiligdom baie hoog gebou, stewig vir altyd soos die aarde self.
70Hy het sy dienskneg Dawid gekies, hom van die skaapkrale af gaan haal.
71Van agter die lammerooie het Hy hom weggevat om sy volk Jakob te versorg, sy eie volk, Israel.
72Hy het hulle met ’n opregte hart versorg en hulle met bekwame hande gelei.