1***
2God het Hom bekendgemaak in Juda; sy Naam is groot in Israel.
3Hy woon in Salem; Sionsberg is sy woning.
4Daar het Hy die brandpyle vernietig, skilde, swaarde en oorlogswapens. Sela
5Die glans van u verskyning is heerliker as die hoogste berge.
6Dapper soldate is geplunder, in hulle slaap oorweldig. Geen soldaat kon ’n hand oplig nie.
7Toe U hulle bestraf, o God van Jakob, het ruiter en perd dood neergeval.
8U moet gevrees word, ja, U! Wie kan voor U standhou wanneer u toorn ontbrand?
9Uit die hemel het U uitspraak gelewer; die wêreld was bang en stil.
10God het opgestaan om te oordeel, om die verdruktes op aarde te red. Sela
11Die woede van mense — dit verander U tot lof. Wat nog daarvan oorbly, gebruik U in u diens.
12Maak geloftes aan die Here jou God, en voer dit uit. Laat almal rondom Hom geskenke bring aan Hom, die Ontsagwekkende.
13Hy breek die moed van prinse; konings van die aarde is bang vir Hom.