1***
2Ons dank U, o God! Ons dank U, want u Naam is by ons. U magtige dade maak dit bekend.
3“Op die tyd wat Ek bepaal het, sal Ek met regverdigheid oordeel.
4Die aarde en sy inwoners bewe, tog vestig Ek hom stewig. Sela
5“Die hoogmoediges het Ek gewaarsku: ‘Hou op met julle grootpratery!’ en vir die goddeloses: ‘Moenie julleself verhef nie!
6Moenie jou teen die hemel verhef, of aanmatigend praat nie.’”
7Want uit die ooste of weste, of selfs uit die woestyn, kom daar geen verheffing nie.
8Maar God is die regter wat verneder of verhef.
9In sy hand hou die Here die beker, gevul met bruisende wyn en kruie. Hy skink daaruit. Die goddeloses van die aarde sal selfs die afsaksels moet drink.
10Maar ek sal altyd getuig en sing tot eer van die God van Jakob.
11“Al die krag van die goddelose sal Ek afbreek; maar die krag van die regverdige sal vermeerder.”