1***
2Here my God, ek soek u beskerming. Red my van al my vervolgers, red my!
3Anders sal hulle my toetakel soos ’n leeu, my in stukke skeur sonder dat iemand my red.
4Here my God, as ek iets verkeerds gedoen het, as ek skuldig is aan onreg,
5as ek ’n vriend van my verraai het, my vyand sonder rede beroof het,
6laat my vyande my agtervolg en vang, my in die grond in vertrap, my eer tot in die stof verneder. Sela
7Staan op, Here, in u toorn! Tree op teen my vyande se woede! Kom tot aksie, my God! Laat u geregtigheid seëvier!
8Laat die nasies om U versamel. Sit op u troon, ver bo hulle verhewe.
9Here, U wat regspreek oor die volke, oordeel my, Here, volgens my regverdigheid en in die lig van my onskuld.
10Regverdige God wat gedagtes en gevoelens deursoek, maak ’n einde aan die boosheid van die goddelose, maar ondersteun die regverdiges.
11God is my skild, Hy wat opregtes van hart verlos.
12God is ’n regverdige regter; God oordeel bose mense daagliks.
13As iemand nie berou het nie, maak Hy sy swaard skerp. Hy span sy boog en hou dit gereed.
14Hy het dodelike wapens voorberei en sy vurige pyle is gereed.
15Hy wat swanger is van sonde, wat verwagtend is van onheil, gee geboorte aan leuens.
16Hy grawe ’n gat om ander te vang, maar val dan self daarin.
17Sy boosheid tref homself, sy geweld kom neer op sy eie kop.
18Ek wil die Here dank omdat Hy regverdig is. Die Naam van die allerhoogste Here wil ek besing.