1***
2Red my, o God! Die vloedwaters is reeds tot by my keel.
3Dieper en dieper sink ek in modder, met geen plek om te staan nie. In diep waters het ek beland, en die stroom oorweldig my.
4Ek is uitgeput van roep om hulp. My keel is hees en my oë dof, terwyl ek wag dat God my help.
5Hulle wat my haat sonder oorsaak is meer as die hare op my kop. Talryk is hulle wat my wil vernietig, en dit sonder oorsaak. My vyande is leuenaars wat eis dat ek teruggee dit wat ek nie gesteel het nie.
6O God, U weet hoe dwaas ek is; ek kan my skuld nie vir U wegsteek nie.
7Moenie dat hulle wat op U vertrou, deur my beskaam word nie, oppermagtige Here, die Almagtige. Moenie dat hulle wat U dien deur my verneder word nie, o God van Israel.
8Om u ontwil moet ek veragting verduur, is ek tot skande gemaak.
9Vir my broers het ek ’n onbekende geword, ’n vreemdeling vir die seuns van my moeder.
10’n Ywer vir u huis brand in my, die beledigings teen U gemik, tref ook vir my.
11Wanneer ek huil terwyl ek vas, moet ek hulle beledigings verduur.
12Wanneer ek rouklere aantrek, skeer hulle met my die gek.
13Dié wat sit in die stadspoort skinder van my, en die dronkaards maak liedjies oor my.
14Wat my betref, ek bid tot U, Here; antwoord my op u bestemde tyd, o God. In die grootheid van u troue liefde, antwoord my met u troue redding!
15Trek my op uit die modder sodat ek nie dieper wegsink nie! Red my van my haters en uit die diep waters.
16Moenie dat die watervloed my oorweldig, of die diep waters my insluk, of die graf bokant my toegaan nie.
17Antwoord my, Here, want u genade is goed; verhoor my in u groot barmhartigheid.
18Moenie u gesig vir u dienaar wegdraai nie; antwoord my gou, want ek is in nood!
19Kom na my toe en red my lewe. Bevry my tog van al my vyande.
20U ken die beledigings, die vernedering en die skande; U het al my vyande gesien.
21Hulle beledigings het my gebreek, en ek is radeloos. Ek het gesoek vir meegevoel, maar tevergeefs; vir ’n bemoediger, maar daar was niemand.
22In plaas van kos gee hulle my gif; hulle gee asyn om my dors te les.
23Laat die feesmaal op hulle tafel ’n strik word. Laat hulle welvaart hulle ondergang wees.
24Laat hulle oë blind word, en hulle liggame al swakker.
25Stort u woede uit op hulle; laat u brandende toorn hulle verteer.
26Mag hulle wonings leeg staan en hulle tente verlate.
27Hulle vervolg die een wat U reeds getref het en vertel van die pyn van dié wat U deurboor het.
28Stapel hulle sonde op sodat hulle nie sal deel in u vryspraak nie.
29Wis uit hulle name uit die Boek van die Lewe sodat hulle nie as regverdiges opgeteken sal word nie.
30Ek is ellendig en in pyn. Laat u redding, o God, my beveilig.
31Ek sal God se Naam loof met sang, Hom met danksegging verheerlik.
32Die Here verkies dit bo bulle en bo ’n volmaakte offerdier.
33Die verdruktes sal dit sien en bly wees. Laat almal wat God dien, weer moed skep,
34want die Here hoor dié in nood, en vergeet nie sy mense wat in aanhouding is nie.
35Laat hemel en aarde Hom prys, die see en alles wat daarin beweeg.
36Want God sal Sion red en die stede van Juda herbou. Sy volk sal daar woon en die land besit.
37Die nageslag van sy dienaars sal dit erf; en hulle wat sy Naam liefhet, sal daar woon.