1***
2God sal opstaan en sy vyande verstrooi. Laat dié wat Hom haat, voor Hom vlug.
3Soos wind rook wegblaas, so blaas U hulle weg. Soos was in vuur smelt, só vergaan goddeloses voor God.
4Maar die vromes sal verheug wees, hulle sal bly wees voor God, hulle sal jubel van vreugde.
5Sing tot God, lofsing sy Naam! Huldig Hom wat ry op die wolke. Sy Naam is Here — jubel voor Hom!
6’n Vader vir wese, ’n beskermer van weduwees; dít is God in sy heilige woning.
7God gee aan die eensame ’n tuiste; dié wat gevange is, lei Hy na vryheid, maar opstandelinge woon in ’n verlate woestyn.
8O God, toe U u volk uitgelei het, toe U deur die woestyn getrek het, Sela
9het die aarde gebewe en die hemele het laat reën voor U, die God van Sinai, voor God, die God van Israel.
10O God, U het oorvloedige reëns gestuur om u uitgedorde erfdeel te verkwik.
11Daar het u volk hulle gaan vestig. In u goedheid het U, o God, ook vir die armes voorsien.
12Die Here het bekendgemaak: “’n Menigte vroue bring die goeie nuus.
13Konings en leërs het gevlug.” Hulle het gevlug, en vroue het tuis die buit verdeel.
14Waar julle eers by skaapkrale gewoon het, is julle nou oordek met silwer en goud soos ’n duif hom toemaak met sy vlerke.
15Toe die Almagtige die konings verstrooi, het ’n sneeustorm op Salmonsberg gewoed.
16Basanberg is ’n godeberg, ’n berg met hoë spitse is Basanberg.
17Berg met hoë spitse, hoekom kyk jy met afguns na die berg wat God as woning gekies het, daar waar die Here vir altyd sal woon?
18Met derduisende skitterende strydwaens van God het die Here vanaf Sinaiberg na sy heiligdom toe gekom.
19Toe U opgegaan het na die hoogte, het U krygsgevangenes weggevoer. Mense het vir U geskenke gegee, selfs dié wat teen U in opstand was. Nou sal die Here God onder ons kom woon.
20Prys die Here wat ons dag na dag in sy arms dra. Hy is die God van ons verlossing. Sela
21God is vir ons die God wat verlos! Die oppermagtige Here het beheer oor die dood.
22Immers, God self verpletter die koppe van sy vyande, die koppe van hulle wat in sonde volhard.
23Die Here sê: “Ek sal my vyande bring uit Basan; Ek sal hulle bring uit die dieptes van die see.
24Julle sal hulle bloed van julle voete afwas, en die bloed van julle vyande sal julle honde oplek!”
25U feesoptog is in sig, o God, die optog van my God en Koning is op pad na sy heiligdom.
26Vooraan is die sangers, agter hulle, die musikante. Saam met hulle is jong meisies wat op tamboeryne speel.
27Prys God in die vergaderings; prys die Here, die bron van Israel.
28Kyk, Benjamin, die jongste, is die aanvoerder. Dan volg die baie heersers van Juda en die heersers van Sebulon en Naftali.
29Toon u mag, o God. Toon u krag, o God, soos U dit voorheen vir ons gedoen het.
30Ter wille van u tempel in Jerusalem sal konings vir U geskenke bring.
31Bestraf vir Egipte, die ondier tussen die riete, wat soos troppe bulle tussen kalwers ander vertrap ter wille van geld. Verstrooi die nasies wat hulle verheug in oorlog.
32Uit Egipte kom kosbare geskenke; met uitgestrekte hande bid Kus tot God.
33Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God. Sing lofsange tot eer van die Here, Sela
34sing tot eer van Hom wat deur die oeroue hemel ry terwyl sy magtige stem weerklink.
35Verkondig God se mag, sy majesteit oor Israel, sy mag oor die wolke.
36God wek ontsag in sy heiligdom. Hy is die God van Israel. Vir sy volk gee Hy mag en sterkte. Laat God verheerlik word.