1***
2O God, lof kom U toe in Sion. Ons geloftes sal ons betaal.
3O Hoorder van gebed, na U toe sal alle mense kom.
4Wanneer sondige dade my oorweldig, vergewe dan tog my opstandigheid.
5Geseënd is dié vir wie U uitkies, hulle wat U laat naderkom en in u tempel laat woon. Mag ons oorlaai word met die goedheid van u huis, in u heilige tempel.
6God ons verlosser, U antwoord ons met magtige dade en in geregtigheid. Tot aan die einde van die aarde en vanaf die verste seë hoop mense op U.
7Deur u krag is die berge gevorm; Uself is met mag omgord.
8U bedaar die gedruis van die see, die dreuning van die golwe, en die rumoer van die nasies.
9Mense in afgeleë plekke kry ontsag vir u wonders. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, laat U hulle sing van vreugde.
10U versorg die aarde, en laat dit reën, U maak dit ryk en vrugbaar. Die riviere van God is vol water; U verskaf graan soos U bepaal het.
11U vul die leivore met water, en deurweek die kluite; U laat hulle sag word van reën en laat alles welig groei.
12U kroon die jaar met u goeie gawes; in u spore volg daar oorvloed.
13Die woestyn word ’n weiland, die heuwels is oordek met vreugde.
14Die weivelde wemel van kleinvee, en die valleie is oordek met graan. Hulle juig en sing van vreugde!