1***
2O God, luister tog na my klag. Beskerm my teen die dreiging van my vyande.
3Beskut my teen sameswerings van kwaadwillige mense, teen die kwaadstokery van hulle wat onreg doen.
4Hulle wat hulle tong skerp maak soos swaarde, soos pyle met bitter woorde skiet,
5om uit hinderlae op die onskuldige te skiet, om onverwags op hom te skiet sonder om bang te wees.
6Hulle spoor mekaar aan tot bose dade; in die geheim beplan hulle lokvalle. Hulle vra: “Wie sal dit ooit raaksien?”
7Hulle beplan misdaad, en sê: “Ons het ’n volmaakte plan!” Die mens se gedagtes en bedoelings is inderdaad baie duister.
8Maar God tref hulle met ’n pyl, en skielik is hulle gewond.
9Hulle eie woorde laat hulle struikel. Elkeen wat dit sien, skud die kop.
10Dan sal almal, vervul met ontsag, getuig oor die dade van God en iets van sy werke verstaan.
11Die regverdiges sal bly wees in die Here, en skuiling soek by Hom. Al die opregtes van hart sal Hom prys.