1***
2O God, U is my God, ek soek na U, ek smag na U; my hele liggaam verlang na U soos ’n dor land sonder water.
3Ek het U inderdaad in die heiligdom gesien en u krag en heerlikheid aanskou.
4U troue liefde is beter as die lewe; daarom prys ek U!
5Daarom wil ek U prys so lank as wat ek lewe, en in u Naam my hande ophef.
6U versadig my meer as die rykste kos. Met vreugdeliedere sal ek U loof.
7As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag,
8onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels.
9Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande.
10Mag hulle wat my lewe soek, omkom en in die dieptes van die aarde wegsink.
11Mag hulle oorgegee word aan die swaard en kos word vir die jakkalse.
12Maar die koning sal bly wees in God. Almal wat op God vertrou, sal Hom prys, terwyl leuenaars stilgemaak sal word.