1***
2O God, luister na my roepstem en hoor my gebed!
3Vanaf die einde van die aarde roep ek tot U om hulp, want ek is moedeloos. Lei my na die rots hoër as ek.
4Waarlik, U is vir my ’n skuilplek, ’n sterk vesting buite bereik van my vyande.
5Laat my vir altyd in u woning bly, en onder die beskerming van u vleuels skuil! Sela
6Want U het my geloftes gehoor, o God. U vervul die begeerte van hulle wat u Naam dien.
7Voeg dae by die lewe van die koning; laat sy lewensjare van geslag tot geslag wees!
8Mag hy vir altyd voor God regeer. Mag u goedheid en waarheid hom bewaar.
9Dan sal ek u Naam altyd besing en dag na dag my geloftes betaal.