1***
2Luister na my gebed, o God. Moenie my smeekbede ignoreer nie!
3Luister, asseblief, en antwoord my, want my moeilikhede gee my nie rus nie. Ek is ontsteld
4oor die dreiging van my vyande, oor die druk van die goddeloses. Hulle bring ellende oor my, en kweek vyandskap in hulle toorn.
5My hart pyn binne-in my. Die angs van die dood kom oor my.
6Vrees en bewing oorweldig my. Ek kan nie ophou bewe nie.
7Ek het gesê: “As ek maar vlerke het soos ’n duif, dan sal ek wegvlieg en rus hê!”
8Ek sou ver weg vlieg, ek sou in die woestyn gaan woon. Sela
9Ek sou my haas om te ontvlug van hierdie stormwind en onweer.
10Verslind hulle, Here, en verwar hulle spraak, want ek sien geweld en stryd in die stad.
11Dag en nag loop hulle rondom op die mure, maar die boosheid en onheil is in die stad!
12Verwoesting is aan die orde van die dag, verdrukking en bedrog heers in die strate.
13Dis nie ’n vyand wat my spot nie — dit sou ek kon verdra. Dis nie my vyand wat teen my grootpraat nie — ek sou vir hom kon wegkruip.
14Maar nou is dit jy, ’n man soos ek, my goeie vriend en my metgesel.
15Watter goeie kameraadskap het ons geniet! Ons het saam gegaan na die huis van God te midde van ’n skare mense!
16Laat die dood hulle oorval. Laat die doderyk hulle lewendig verslind, want boosheid heers in hulle huise en harte.
17Maar ek roep tot God, en die Here sal my verlos.
18Saans, soggens en smiddae pleit ek en kla ek, en Hy hoor my stem.
19Hy red my lewe en bring my veilig uit die stryd wat teen my woed, want baie is vyandig teenoor my.
20God sal hoor en hulle verneder, Hy wat van altyd af regeer. Sela Want hulle bekeer hulle nie en dien God nie.
21My metgesel het teen sy vriende gedraai; hy het sy ooreenkoms verbreek.
22Sy woorde is so glad soos botter, maar sy hart vol oorlog. Sy woorde is strelend soos olie, maar dis soos ’n ontblote swaard!
23Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie.
24Maar U, o God, sal die bose mense na die graf van verderf laat afdaal. Moordenaars en bedrieërs sal jonk sterf, maar ek sal op U vertrou.