1***
2***
3Hoekom spog jy met jou boosheid, man van mag? God se troue liefde is mos sonder einde!
4Jy beplan verwoesting. Jou tong is skerp soos ’n skeermes; jy is ’n bewerker van bedrog.
5Jy verkies boosheid bo goedheid en leuens bo die waarheid. Sela
6Jy geniet woorde wat vernietig, en met jou tong bedrieg jy!
7Maar God sal jou vir altyd neergooi. Hy sal jou gryp, jou uit jou woning wegsleep en jou ruk uit die land van die lewendes. Sela
8Die regverdiges sal dit sien en met eerbied vervul word. Hulle sal lag en sê:
9“Kyk wat gebeur met die man wat nie by God geskuil het nie: Hy het eerder op sy rykdom vertrou, en deur verwoesting sterk geword.”
10Maar ek is soos ’n olyfboom wat geil groei in die huis van God. Ek vertrou op God se goedheid so lank as wat ek lewe.
11Ek sal U altyd loof, o God, vir wat U gedoen het. Ek sal op u Naam hoop, want hulle wat aan U getrou is, weet dat U goed is.