1Die Here is God, net Hy is God. Hy praat en roep die hele aarde op van waar die son opkom tot waar dit ondergaan.
2Vanuit Sion, in volmaakte prag, skyn God in heerlikheid.
3Ons God kom nader, maar nie in stilte nie: Voor Hom verteer ’n vuur en rondom Hom woed ’n storm.
4Hy roep die hemel en die aarde om sy getuies te wees wanneer Hy regspreek oor sy volk:
5“Versamel dié wat getrou is aan My, en met offers ’n verbond met My sluit.”
6Die hemele maak sy regverdigheid bekend, want God self is die regter. Sela
7“My volk, luister as Ek praat, Ek sal teen jou getuig, Israel. Ek is God, jou God!
8Dis nie weens jou offers dat Ek jou berispe, of oor jou brandoffers wat gedurig voor My is nie.
9Ek soek geen bul uit jou stal, of bokke uit jou kraal nie.
10Want al die diere van die bos is Myne, ook die wild op duisende berge.
11Ek ken elke voël op die berge; al wat roer in die veld is Myne.
12Sou Ek honger wees, sal Ek jou dit nie sê nie, want aan My behoort die aarde en alles daarop.
13Eet Ek dalk die vleis van bulle, of drink Ek die bloed van bokke?
14Offer dankoffers aan God, en betaal jou geloftes aan Hom die Allerhoogste.
15Roep na My in die dag van nood. Ek sal jou verlos en jy sal My eer.”
16Maar vir die goddelose sê God: “Hoe durf jy my bepalings voorhou en jou op my verbond beroep?
17Want jy verwerp my vermanings en verontagsaam my opdragte.
18Wanneer jy ’n dief sien, maak jy soos hy; en met egbrekers vereenselwig jy jou.
19Jou mond verkondig kwaad, en jou tong praat bedrog.
20Jy sit en beswadder jou broer, en praat tot nadeel van jou eie broer.
21Dit alles het jy gedoen, maar Ek het stilgebly, en jy het gedink Ek het soos jy geword. Maar nou eis Ek rekenskap van jou en sal jou openlik beskuldig.
22Luister hierna, julle wat My misken, anders sal Ek julle uitmekaarskeur sonder dat iemand julle verlos.
23Hy wat ’n dankoffer bring, eer My. Aan hom wat my pad volg, sal Ek my verlossing bekendmaak.”