Psalms 48
1 ***
2 Die Here is groot! Hom kom toe die grootste lof in die stad van ons God, op sy heilige berg!
3 Sionsberg, daar teen die noorde, is pragtig daarbo, dis ’n vreugde vir die hele aarde, die stad van die Groot Koning!
4 God self is in haar vestings; Hy is bekend as ’n toevlugsoord.
5 Konings het saamgespan, saam teen die stad opgeruk.
6 Toe hulle die stad sien, was hulle sprakeloos en het verskrik op die vlug geslaan.
7 Angs het hulle aangegryp, soos ’n vrou met geboortepyne;
8 angs soos toe die oostewind die skepe van Tarsis verwoes het.
9 Ons het dit verneem, dit self so gesien, in die stad van die Here, die Almagtige, in die stad van ons God. God sal dit vir altyd vas laat staan. Sela
10 O God, ons oordink u troue liefde wanneer ons in die tempel aanbid.
11 Soos dit pas by u Naam, o God, so sal U geprys word tot aan die eindes van die aarde. U sterk hand is vol regverdigheid.
12 Sionsberg sal bly wees, die dorpe van Juda sal juig, want u oordele is regverdig.
13 Gaan loop in Sion. Loop rond en tel al die torings.
14 Kyk na die versterkte mure en bekyk al die vestings, sodat jy dit kan vertel aan die geslagte ná jou.
15 Want dié God is ons God vir altyd. Hy is ons God. Hy sal ons tot die einde toe lei.