1***
2Die Here is groot! Hom kom toe die grootste lof in die stad van ons God, op sy heilige berg!
3Sionsberg, daar teen die noorde, is pragtig daarbo, dis ’n vreugde vir die hele aarde, die stad van die Groot Koning!
4God self is in haar vestings; Hy is bekend as ’n toevlugsoord.
5Konings het saamgespan, saam teen die stad opgeruk.
6Toe hulle die stad sien, was hulle sprakeloos en het verskrik op die vlug geslaan.
7Angs het hulle aangegryp, soos ’n vrou met geboortepyne;
8angs soos toe die oostewind die skepe van Tarsis verwoes het.
9Ons het dit verneem, dit self so gesien, in die stad van die Here, die Almagtige, in die stad van ons God. God sal dit vir altyd vas laat staan. Sela
10O God, ons oordink u troue liefde wanneer ons in die tempel aanbid.
11Soos dit pas by u Naam, o God, so sal U geprys word tot aan die eindes van die aarde. U sterk hand is vol regverdigheid.
12Sionsberg sal bly wees, die dorpe van Juda sal juig, want u oordele is regverdig.
13Gaan loop in Sion. Loop rond en tel al die torings.
14Kyk na die versterkte mure en bekyk al die vestings, sodat jy dit kan vertel aan die geslagte ná jou.
15Want dié God is ons God vir altyd. Hy is ons God. Hy sal ons tot die einde toe lei.