1***
2Soos ’n wildsbok smag na water, so smag ek na U, o God.
3Ek verlang na God, die lewende God. Wanneer kan ek ingaan en weer voor Hom verskyn?
4My trane is my kos, dag en nag, terwyl teenstanders my aanhoudend tart en sê: “Waar is dié God van jou?”
5As ek nadink hoe dit voorheen was, is ek ontsteld. Toe het ek geloop saam met die aanbidders en ’n optog gelei na die tempel van God terwyl ek sing en jubel saam met die skare wat feesvier.
6Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys. Hy is my redder
7en my God! Tog is ek nou terneergedruk. Ek onthou hoe, vanaf die Jordaangebied, vanaf die berge van Hermon en die hoogte van Miskar,
8die rumoer van u watervalle druis en dreun. So het al u strome en golwe ook oor my gegaan.
9Tog sal die Here bedags weer sy trou betoon. Selfs in die donker nag sing ek sy lied, ’n gebed tot die God van my lewe.
10Ek sal roep tot God en sê: “My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek met rouklere loop omdat die vyand my verdruk?”
11Dis soos ’n diep wond in my binneste wanneer vyande met my spot, wanneer hulle dag na dag vra: “Waar is jou God?”
12Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys. Hy is my redder en my God!