1***
2Geseënd is die mens wat omgee vir die armes. In tye van nood sal die Here hom red.
3Die Here sal hom beskerm en hom die lewe laat behou. Hy gee aan hom voorspoed in die land en lewer hom nie oor in die mag van sy vyande nie.
4Die Here sorg vir hom as hy siek is en laat hom opstaan uit sy siekbed.
5Ek het gesê: “Here, wees my genadig. Maak my gesond, want ek het teen U gesondig.”
6My vyande praat kwaad van my. Hulle sê: “Wanneer sal hy sterf en vergete wees?”
7As hulle my besoek, is hulle skynheilig: In hulle harte versamel hulle slegte gedagtes; dan gaan hulle uit en vertel dit.
8Almal wat my haat, fluister saam oor my en beplan net die ergste vir my:
9“’n Dodelike siekte het hom getref. Waar hy nou lê, sal hy nooit opstaan nie!”
10My beste vriend wat ek vertrou het, wat saam met my geëet het, selfs hy het sy rug op my gedraai.
11Here, wees my genadig. Maak my weer gesond sodat ek hulle kan vergeld!
12Ek weet dat U my liefhet, want my vyand seëvier nie oor my nie.
13U hou my staande omdat ek onskuldig is. U laat my altyd naby U bly.
14Prys die Here, die God van Israel, van altyd af en tot in die oneindigheid. Amen, ja, amen!