1***
2Ek het gesê: “Ek sal bedag wees op wat ek doen en nie sondig met wat ek sê nie. Ek sal versigtig wees om nie te praat in die teenwoordigheid van die goddelose nie.”
3Maar toe ek daar in stilte bly staan en nie oor goeie dinge kon praat nie, het my ontsteltenis groter geword.
4Dit het in my begin kook. Terwyl ek nagedink het, het ek kwaad geword, en toe het ek begin praat:
5“Here, sê my tog wanneer is my einde. Wat is die getal van my lewensdae? Laat my besef hoe lank my lewe nog sal wees!
6Kyk, U het my lewe ’n blote handbreedte lank gemaak. My lewensduur is byna niks in u oë nie. Al is hy hoe selfversekerd, die mens is verganklik.” Sela
7Die mens is net ’n bewegende skaduwee. Al sy gejaagdheid is tevergeefs: Hy versamel rykdom, maar weet nie wie dit gaan gebruik nie.
8Here, waarop kan ek dan hoop? U is my enigste hoop.
9Red my van my oortredings. Moenie dat ek die spot van dwase mense word nie.
10Ek swyg voor U. Ek sal nie ’n woord sê nie, want U het dit gedoen.
11Neem tog u beproewing weg van my! Ek is uitgeput weens die las wat U op my lê.
12As U ’n mens straf oor sy sondes, verteer U dit wat hy begeer soos ’n mot. Daar is geen twyfel nie: Elke mens is waarlik verganklik. Sela
13Luister tog na my gebed, Here! Luister na my geroep om hulp! Moenie my trane miskyk nie. Want ek is soos ’n vreemdeling by U, ’n bywoner soos my voorouers.
14Spaar my lewe sodat ek weer kan glimlag voordat ek doodgaan en nie meer bestaan nie.