1Moenie jou vererg oor boosdoeners nie. Moenie die kwaaddoeners beny nie.
2Want soos gras verlep hulle gou. Soos plante verdroog hulle vinnig.
3Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veiligheid.
4Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee.
5Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg.
6Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die lig, en die regverdigheid van jou saak soos die middagson.
7Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie.
8Moenie kwaad word nie; laat staan liewer jou woede. Moenie ander beny nie; dit lei net tot jou nadeel.
9Want die bose mense sal vernietig word, maar dié wat op die Here vertrou, sal die land besit.
10Binnekort sal die boosdoeners nie meer daar wees nie; al soek jy na hulle, sal jy hulle nie kry nie.
11Maar sagmoediges sal die land besit, hulle sal oorvloedige vrede geniet.
12Die goddelose sweer saam teen die regverdiges en kners op die tande vir hulle.
13Maar die Here lag vir hom, want Hy sien sy dag van oordeel kom al nader.
14Die goddelose trek die swaard en span die boog om die armes en behoeftiges tot ’n val te bring, om hulle wat reg doen, dood te maak.
15Maar hulle swaard sal hulle eie hart deurboor en hulle boog sal stukkend gebreek word.
16Dit is beter om vroom te wees en min te besit as om boos te wees en baie besittings te hê.
17Want die mag van die bose sal verpletter word, maar die Here sal die regverdiges beskerm.
18Die Here ken die lewensdae van die opregtes, en hulle erfdeel sal vir altyd bly bestaan.
19In slegte tye sal hulle nie verleë wees nie; selfs in hongersnood sal hulle genoeg hê.
20Maar die goddelose sal vergaan. Die vyande van die Here sal wees soos mooi weivelde wat soos rook verdwyn.
21Die goddelose leen en betaal nie terug nie, maar die regverdige gee vrygewig.
22Hulle vir wie die Here seën, sal die land besit, maar hulle wat Hy vervloek, sal uitgeroei word.
23Die Here bepaal die rigting van ’n mens met wie se lewe Hy tevrede is.
24Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die Here hou sy hand vas.
25Ek was jonk, en nou is ek oud. Maar ’n regverdige mens wat verlate is, het ek nooit gesien nie, of dat sy kinders vir kos moes bedel nie.
26Hy leen altyd ruimskoots aan ander, en sy kinders is tot ’n seën.
27Vermy die kwaad en doen wat goed is, dan sal jy vir altyd woon in die land.
28Want die Here het die reg lief, en sal sy getroue dienaars nie verlaat nie. Hy sal hulle vir altyd veilig bewaar, maar die goddelose se kinders sal vergaan.
29Die regverdiges sal die land besit en daar vir altyd woon.
30Die regverdige het wyse raad; wat hy sê, is regverdig.
31Die gebooie van sy God is in sy hart. Hy sal nie ’n voet verkeerd sit nie.
32Die goddelose wag die regverdige in, en wag vir die kans om hom dood te maak.
33Maar die Here verhoed dat hy in hulle mag val sodat hulle hom skuldig kan bevind wanneer hy voor die gereg kom.
34Vertrou die Here en volg sy voorskrifte. Hy sal jou ophef sodat jy die land sal besit en die goddelose se uitwissing sal sien.
35Ekself het dit sien gebeur: Hoogmoedige en bose mense floreer soos welige bome.
36Maar toe ek weer kyk, was hulle weg! Hoewel ek hulle gesoek het, kon ek hulle nie kry nie!
37Maar kyk na hulle wat eerlik en opreg is, want die toekoms van so ’n mens is vol vrede.
38Maar oortreders word saam vernietig; hulle toekoms sal tot ’n einde kom.
39Die Here red die regverdiges; Hy is ’n toevlug in moeilike tye.
40Die Here help hulle, en red hulle van goddelose mense. Hy red hulle, want hulle skuil by Hom.