1***
2Die goddelose se opstand kom uit sy hart. Hy het nie ontsag vir God nie.
3In sy blinde verwaandheid sien hy nie sy sonde om dit te haat nie.
4Alles wat hy sê, is sondig en vals. Hy is nie verstandig nie en doen nie die goeie nie.
5Hy beplan kwaad wanneer hy gaan lê. Hy kies ’n pad wat nie goed is nie en verwerp nie die kwaad nie.
6Here, u goedheid is eindeloos soos die heelal; u trou tot by die wolke.
7U regverdigheid is soos die hoogste berge, u oordeel soos die diepste waters. U sorg vir mense en diere, Here.
8Hoe kosbaar is u trou, o God! Die hele mensdom vind skuiling in die skadu van u vleuels.
9U voed hulle uit die oorvloed van u huis, en laat hulle drink uit strome van vreugde.
10Want by U is die fontein van die lewe, in u lig sien ons die lig.
11Laat u goedheid bly by dié wat U erken en u regverdigheid by dié wat opreg is.
12Moenie dat die hoogmoediges my vertrap nie. Moenie dat die goddeloses my wegdryf nie.
13Die kwaaddoeners val daar waar hulle is, hulle word neergegooi en kan nooit weer opstaan nie.