1Kla dié aan wat my aankla, Here. Val húlle aan wat vir my aanval.
2Vat kleinskild en grootskild. Maak gereed en kom tot my redding.
3Neem u spies en werpspies op teen hulle wat my agtervolg. Laat ek hoor dat U sê: “Ek is jou redding!”
4Verneder hulle wat my lewe soek, en maak hulle tot skande. Laat hulle wat kwaad teen my beplan, in verwarring omdraai.
5Laat hulle wees soos kaf voor die wind wat die engel van die Here wegblaas.
6Maak hulle pad donker en glibberig terwyl die engel van die Here hulle agtervolg.
7Al het ek hulle geen kwaad aangedoen nie, het hulle vir my ’n strik gestel. Al het ek hulle nie benadeel nie, het hulle vir my ’n gat gegrawe.
8Daarom, laat sy verderf skielik kom: Laat hy in sy eie strik gevang word. Laat hy val in die gat wat hy gegrawe het.
9Dan sal ek juig in die Here, ek sal my verheug oor sy redding.
10My hele wese sal uitroep: “Here, wie is soos U wat die hulpelose red uit die mag van die sterke, en die armes en behoeftiges van dié wat roof?”
11Kwaadwillige getuies staan teen my op. Hulle vra vir my dinge waarvan ek niks weet nie.
12Die goeie wat ek doen, vergoed hulle met boosheid terwyl ek siek is van wanhoop.
13Maar toe hulle siek was, het ek van droefheid rouklere gedra. Ek het myself verneder deur te vas, maar my gebede het teruggekom sonder ’n antwoord.
14Soos ’n vriend of ’n broer het ek opgetree, soos een wat treur oor sy moeder, geboë en in rou.
15Maar nou is hulle bly wanneer ek struikel. Hulle kom bymekaar, en lasteraars span saam teen my. Dié wat ek nie eers ken nie, trek my uitmekaar sonder ophou.
16Toe ek gestruikel het, het hulle my gespot, teen my hulle tande gekners.
17Hoe lank, Here, sal U net toekyk? Red my van hulle vernietiging, beskerm my van hulle wat my lewe soos leeus bedreig.
18Dan sal ek U dank in die groot vergadering; ek sal U prys voor die groot skare van mense.
19Moenie toelaat dat my verraderlike vyande oor my lekkerkry, of dat hulle wat my sonder rede haat, hulle verlekker oor my leed nie.
20Hulle praat nie oor vrede nie, maar bedink vals beskuldigings teen onskuldige mense.
21Hulle rek hulle monde oop teen my en sê: “Aha! Aha! Ons het dit met ons eie oë gesien!”
22Here, U het alles gesien. Moenie stilbly nie! Here, moenie ver van my af wees nie.
23Word wakker! Staan op! Kom tot my verdediging! Verdedig my saak, my God en my Here!
24Gee uitspraak oor my in ooreenstemming met u regverdigheid, Here my God. Moenie dat hulle oor my lekkerkry nie.
25Moenie dat hulle sê: “Dis net wat ons wou hê!” nie. Moenie dat hulle sê: “Ons het hom vernietig!” nie.
26Mag hulle wat juig oor my nood, verneder word en in skande kom. Mag hulle wat op my neersien met skaamte en oneer bedek word.
27Laat hulle wat juig oor my vryspraak, uitroep van vreugde en blydskap. Laat hulle voortdurend sê: “Groot is die Here wat Hom verheug in die vrede van sy dienaar.”
28Ek sal u geregtigheid verkondig, ek sal U die hele dag lank prys.