Psalms 33
1 Jubel, regverdiges, oor die Here! Dit pas opregtes om Hom te loof.
2 Prys die Here met die lier; met musiek op die tiensnareharp.
3 Sing vir Hom ’n nuwe lied, speel met vaardigheid en jubel.
4 Want die woord van die Here is waarheid, en alles wat Hy doen, staan vas.
5 Hy het regverdigheid en reg lief, en sy troue liefde vul die aarde.
6 Deur die woord van die Here is die hemele geskape; en deur sy woord al die hemelliggame.
7 Hy stel grense vir die see, in die diepwaters versamel Hy hulle.
8 Laat elkeen op die aarde die Here dien. Laat die inwoners van die wêreld ontsag hê vir Hom.
9 Want Hy het gepraat, en dit was daar; Hy het beveel, en dit was so.
10 Die Here verydel die beraadslaging van die nasies en dwarsboom die planne van mense.
11 Maar die Here se planne staan vir altyd vas; sy beplanning geld vir geslag na geslag.
12 Geseënd is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy vir Homself as sy eiendom gekies het.
13 Die Here kyk vanuit die hemel en sien die hele mensdom.
14 Vanaf sy woning sien Hy al die bewoners op die aarde.
15 Omdat Hy hulle harte gemaak het, verstaan Hy alles wat hulle doen.
16 ’n Koning word nie gered deur ’n groot leër nie, ook nie ’n krygsman deur groot krag nie.
17 Dis valse hoop dat ’n oorlogsperd veiligheid verseker, en deur groot krag redding bring.
18 Maar die Here waak oor dié wat Hom dien, oor hulle wat hoop op sy troue liefde
19 om hulle te red van die dood en hulle in hongersnood aan die lewe te hou.
20 Ons vertrou op die Here om ons te red. Hy is ons hulp en beskerm ons soos ’n skild.
21 In Hom is ons harte verheug, want ons vertrou op sy heilige Naam.
22 Laat u troue liefde ons oordek, Here, want ons hoop op U alleen.