1Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees? Die Here is my lewenstoevlug. Vir wie sal ek dan bang wees?
2Wanneer bose mense kom om my te verslind, my vyande en teenstanders my aanval, struikel en val húlle.
3Al sou ’n magtige leër teen my optrek, ek sal nie bang wees nie. Al sou hulle my aanval in ’n geveg, selfs dán sal ek hoopvol bly.
4Een ding vra ek van die Here, en dit sal ek bly soek: om in die huis van die Here te bly al die dae van my lewe, om my te verbly in sy goedheid, en in sy tempel daaroor na te dink.
5Want as gevaar dreig, sal Hy my wegsteek. Hy sal my in sy woning verberg. Hy sal my op ’n hoë rots laat staan.
6Dan sal ek my kop hoog oplig bokant my vyande wat my omring. In sy woning sal ek offers van vreugde bring terwyl ek sing en met musiek die Here loof.
7Luister tog na my as ek roep, Here. Wees genadig, verhoor my gebed!
8U het vir my hart gesê: “Kom en dien My.” Ek antwoord: “Here, ek kom U dien.”
9Moenie U vir my verberg nie, of u dienaar in toorn verwerp nie. U was nog altyd my helper. Moenie my nou verlaat nie; moenie my in die steek laat nie, God van my verlossing!
10Selfs al sou my pa en ma my verlaat, die Here sal my styf vashou.
11Leer my hoe om te lewe, Here. Lei my op ’n gelyke pad, want my vyande wag my in.
12Moenie my oorgee in die hande van my vyande nie. Hulle bring vals getuies teen my en hulle blaas geweld aan teen my.
13Tog is ek daarvan oortuig: Die Here se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes.
14Vertrou op die Here! Wees sterk en skep moed! Ja, vertrou op die Here!