1***
2Die koning is bly oor u mag, Here, vol vreugde oor u verlossing.
3U het hom sy hartsbegeerte gegee; niks wat hy gevra het, het U geweier nie. Sela
4U gaan hom tegemoet met seëninge van voorspoed. Op sy kop sit U ’n kroon van suiwer goud.
5Lewe het hy van U gevra, en U het dit gegee — ’n lang lewe wat steeds voortduur.
6U oorwinning besorg hom groot eer; met glans en majesteit het U hom beklee.
7U het hom bekroon met seëninge vir altyd, en hom gegee die blydskap van u nabyheid.
8Want die koning vertrou op die Here. Die trou van die Allerhoogste sal hom van struikeling bewaar.
9U hand sal al u vyande tref. U sterke hand sal al u haters vernietig.
10U sal hulle vernietig soos in ’n oond die oomblik wanneer U verskyn. Die Here sal hulle in sy toorn verslind, soos vuur sal Hy hulle verteer.
11U sal hulle kinders van die aarde af uitwis, hulle nageslag uit die mensheid verwyder.
12Al sou hulle teen U in opstand kom, hulle bose planne sal nie slaag nie.
13Want U sal hulle laat omdraai en vlug wanneer U pyle op hulle rig.
14Verhef U in u mag, Here. Ons wil U prys en oor u grootheid sing.