Psalms 22NLV

1***

2My God, my God! Waarom het U my verlaat? Waarom bly U so ver wanneer ek roep om hulp, so ver wanneer ek tot U sug?

3Elke dag roep ek na U, my God, maar U antwoord nie; ook elke nag roep ek, maar daar is geen rus vir my nie.

4Tog is U die Heilige wat woon waar Israel U prys.

5Ons voorouers het op U vertrou, hulle het U vertrou, en U het hulle gered.

6Tot U het hulle geroep, en hulle is verlos. Hulle het op U vertrou, en was nooit verleë nie.

7Maar ek is net ’n wurm, en nie ’n man nie; ek word bespot deur die mensdom, verag deur almal om my.

8Elkeen wat my sien, spot met my. Hulle trek vir my gesigte, skud die kop en sê:

9“Vertrou op die Here; laat Hý hom dan red! Laat die Here hom verlos as Hy hom dan so liefhet!”

10Maar U het my die lewenslig laat sien, my as suigeling op U laat vertrou.

11Vanaf geboorte is ek van U afhanklik. Vanaf die begin van my lewe was U my God.

12Moenie ver van my af bly nie, want ellende kom en daar is geen helper nie.

13Soos ’n trop bulle omsingel my vyande my; wilde beeste van Basan het my omring!

14Soos brullende leeus wat uitmekaar wil skeur, met oopgesperde bekke storm hulle op my af.

15My lewe is uitgestort soos water, al my bene val uitmekaar. My hart is soos was wat in my wegsmelt.

16My krag het opgedroog soos ’n potskerf. My tong kleef aan my verhemelte. U laat my vir dood in die stof lê.

17Soos ’n trop honde sirkel hulle om my; ’n kwaadwillige bende sak op my toe. My hande en voete is vasgemaak.

18Ek kan al my bene in my tel. Met leedvermaak gluur my vyande my aan.

19Hulle verdeel my klere onder mekaar en deur die lot te werp deel hulle my kledingstukke.

20Here, bly nie ver van my af nie! U is my sterkte; help my tog gou!

21Red my van die swaard, red my kosbare lewe uit die mag van hierdie honde.

22Red my uit die bek van die leeu, van die horings van wilde beeste. U het my gebed verhoor!

23Aan my broers maak ek u Naam bekend. In die vergadering verkondig ek u lof.

24Prys die Here, julle almal wat Hom dien! Verheerlik Hom, nakomelinge van Jakob! Betoon eerbied aan Hom, nageslag van Israel!

25Want die leed van hulle in nood ignoreer Hy nie; vir hulle maak Hy nie sy oë toe nie. Hy luister na hulle geroep om hulp.

26Van U af kom my lofsang in die groot vergadering; voor hulle wat U dien, sal ek my geloftes nakom.

27Dié in nood sal eet en versadig word. Almal wat die Here dien, sal Hom loof. Mag hulle harte bly wees vir altyd.

28Die hele aarde sal die Here erken en na Hom toe terugkeer. Mense uit elke nasie sal Hom weer dien.

29Want die koningskap behoort aan die Here! Hy heers oor al die nasies.

30Laat die rykes van die wêreld feesvier en Hom aanbid. Laat al wat sterfling is, voor Hom buig; hulle wat sterflik is en bestem is vir die graf.

31Die nageslag sal Hom dien. Die komende geslagte sal van die Here hoor.

32Sy regverdige dade sal aan hulle vertel word. Dié wat nou nog ongebore is, sal van sy dade hoor.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Psalms 22.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.