1***
2Die hemele verkondig die heerlikheid van God. Die uitspansel getuig van die werk van sy hande.
3Die een dag vertel vir die ander dag; die een nag vir die volgende nag.
4Hulle praat sonder woord of klank, geluidloos is hulle stem;
5hulle boodskap gaan uit oor die hele wêreld, hulle woorde tot die uiterste van die aarde. Die son se woonplek is in die hemel, waar God dit geplaas het.
6Soos ’n bruidegom verskyn hy uit sy kamer, soos ’n held op die baan, ywerig om weg te spring.
7Aan die een kant van die horison kom hy op en aan die ander kant gaan hy onder. Niks kan sy hitte ontkom nie.
8Die Here se voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag. Die bepalings van die Here is betroubaar; dit maak die eenvoudige verstandig.
9Die Here se bevele is reg, dit bring vreugde vir die hart. Die opdragte van die Here is duidelik; dit gee insig vir die lewe.
10Die gebooie van die Here is suiwer, dit bly vir altyd staan. Die Here se voorskrifte is reg; elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud, selfs as die fynste goud. Hulle is soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.
12Dis ’n waarskuwing vir u dienaar, en ’n groot beloning vir dié wat dit gehoorsaam.
13Wie kan sy eie oortredings verstaan? Spreek my vry oor verborge sondes,
14en bewaar my van opsetlike sondes! Laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek vry wees van skuld, en onskuldig aan groot oortredings.
15Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser.