Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 18

:
Afrikaans - NLV
1 ***
2 Hy het gesê: Ek het U baie lief, Here; U is my sterkte.
3 Die Here is my rots, my vesting en my redder, my God, en my rots by wie ek skuil. Hy is my skild, my magtige redder, my veilige vesting.
4 Ek het tot die Here geroep, Hy wat lofwaardig is, want Hy red my van my vyande.
5 Bande van die dood omring my; strome van onheil oorweldig my.
6 Bande van die dood draai my vas; strikke van die dood wag my in.
7 In my angs het ek tot die Here geroep, tot my God geroep om hulp. In sy heiligdom het Hy geluister; my hulpgeroep het Hy gehoor.
8 Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gerammel, hulle het geruk vanweë sy toorn.
9 Rook het uit sy neusgate geborrel, verterende vlamme uit sy mond, gloeiende kole uit sy binnekant.
10 Hy het die hemele oopgebreek en afgekom; donkerte was onder sy voete.
11 Hy het ’n gerub bestyg en gevlieg, Hy het gesweef op die vlerke van die wind.
12 Hy het Homself met donkerte omhul, reënwolke en wolkemassas het Hom bedek.
13 Uit die gloed voor Hom het wolke gekom, hael en weerligstrale.
14 Die Here se stem donder uit die hemel; die Allerhoogste laat sy stem hoor: hael en weerligstrale.
15 Hy skiet sy pyle, verstrooi sy vyande; sy weerlig flits, hulle is verbysterd.
16 Die bodem van die see word sigbaar, die fondamente van die aarde word ontbloot deur die gebulder van die Here, en die rukwind van sy asem.
17 Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, uit diepwaters het Hy my getrek.
18 Hy verlos my van magtige vyande, van haters wat te sterk was vir my.
19 Hulle het aangeval toe ek in die moeilikheid was, maar die Here hou my staande.
20 Hy lei my na veiligheid, en red my omdat Hy my liefhet.
21 Die Here beloon my opregtheid; Hy vergoed my onskuld.
22 Want ek was getrou aan die voorskrifte van die Here; ek was nie skuldig teenoor my God nie.
23 Want sy voorskrifte het ek onderhou; en van sy bepalings nie afgewyk nie.
24 Ek is onskuldig voor Hom; ek het weggebly van sonde.
25 Die Here het my opregtheid beloon, want ek was onskuldig voor Hom.
26 Vir die getroues is U getrou; vir die opregtes is U opreg.
27 Vir dié wat rein is, is U rein, vir dié wat vals is, is U vals.
28 U red hulle wat nederig is, maar die hoogmoediges verneder U.
29 U laat my lamp skyn, Here my God. U verlig my duisternis.
30 Met U loop ek ’n leër storm; met my God spring ek oor ’n muur.
31 God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil.
32 Want wie anders as die Here is God? Wie anders as God is ’n rots?
33 God rus my toe met krag; Hy maak my pad veilig.
34 Hy maak my voete soos dié van ’n wildsbok, op hoë plekke laat Hy my veilig staan.
35 Hy oefen my hande vir die geveg, my arms om ’n bronsboog te trek.
36 U redding is vir my ’n skild. U regterhand ondersteun my; u hulp maak my sterk.
37 Die pad onder my maak U breed, en my enkels swik nie.
38 Ek het my vyande agtervolg en ingehaal; ek het nie omgedraai voordat hulle almal uitgewis was nie.
39 Ek het hulle oorrompel en neergeslaan, hulle kon nie opstaan nie; hulle het voor my voete geval.
40 U het my met krag toegerus vir die stryd, en my teenstanders aan my onderwerp.
41 My vyande het U voor my laat vlug; my haters het ek uitgewis.
42 Hulle roep om hulp, maar niemand kom help nie; selfs tot die Here, maar Hy antwoord hulle nie.
43 Ek maal hulle fyn soos die stof van die aarde, soos modder op straat vermorsel ek hulle.
44 In die stryd met teenstanders het U my verlos, my aangestel as koning oor nasies. ’n Volk wat ek nie geken het nie, dien my nou.
45 Uitlanders word my onderdane. As hulle van my hoor, gehoorsaam hulle my.
46 Vreemdelinge word moedeloos en kom bewend uit hulle vestings.
47 Die Here leef! Ek prys my rots! Ek loof God, rots van my redding,
48 God wat wraak neem namens my, wat volke aan my onderwerp.
49 Hy red my van my vyande. Buite bereik van teenstanders verhef U my; U verlos my van geweldenaars.
50 Daarom, Here, sal ek U prys voor die nasies. Tot eer van u Naam sal ek ’n loflied sing!
51 U gee groot oorwinnings aan u koning; aan u gesalfde is U getrou, aan Dawid en sy nageslag vir altyd!