Psalms 18NLV

1***

2Hy het gesê: Ek het U baie lief, Here; U is my sterkte.

3Die Here is my rots, my vesting en my redder, my God, en my rots by wie ek skuil. Hy is my skild, my magtige redder, my veilige vesting.

4Ek het tot die Here geroep, Hy wat lofwaardig is, want Hy red my van my vyande.

5Bande van die dood omring my; strome van onheil oorweldig my.

6Bande van die dood draai my vas; strikke van die dood wag my in.

7In my angs het ek tot die Here geroep, tot my God geroep om hulp. In sy heiligdom het Hy geluister; my hulpgeroep het Hy gehoor.

8Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gerammel, hulle het geruk vanweë sy toorn.

9Rook het uit sy neusgate geborrel, verterende vlamme uit sy mond, gloeiende kole uit sy binnekant.

10Hy het die hemele oopgebreek en afgekom; donkerte was onder sy voete.

11Hy het ’n gerub bestyg en gevlieg, Hy het gesweef op die vlerke van die wind.

12Hy het Homself met donkerte omhul, reënwolke en wolkemassas het Hom bedek.

13Uit die gloed voor Hom het wolke gekom, hael en weerligstrale.

14Die Here se stem donder uit die hemel; die Allerhoogste laat sy stem hoor: hael en weerligstrale.

15Hy skiet sy pyle, verstrooi sy vyande; sy weerlig flits, hulle is verbysterd.

16Die bodem van die see word sigbaar, die fondamente van die aarde word ontbloot deur die gebulder van die Here, en die rukwind van sy asem.

17Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, uit diepwaters het Hy my getrek.

18Hy verlos my van magtige vyande, van haters wat te sterk was vir my.

19Hulle het aangeval toe ek in die moeilikheid was, maar die Here hou my staande.

20Hy lei my na veiligheid, en red my omdat Hy my liefhet.

21Die Here beloon my opregtheid; Hy vergoed my onskuld.

22Want ek was getrou aan die voorskrifte van die Here; ek was nie skuldig teenoor my God nie.

23Want sy voorskrifte het ek onderhou; en van sy bepalings nie afgewyk nie.

24Ek is onskuldig voor Hom; ek het weggebly van sonde.

25Die Here het my opregtheid beloon, want ek was onskuldig voor Hom.

26Vir die getroues is U getrou; vir die opregtes is U opreg.

27Vir dié wat rein is, is U rein, vir dié wat vals is, is U vals.

28U red hulle wat nederig is, maar die hoogmoediges verneder U.

29U laat my lamp skyn, Here my God. U verlig my duisternis.

30Met U loop ek ’n leër storm; met my God spring ek oor ’n muur.

31God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil.

32Want wie anders as die Here is God? Wie anders as God is ’n rots?

33God rus my toe met krag; Hy maak my pad veilig.

34Hy maak my voete soos dié van ’n wildsbok, op hoë plekke laat Hy my veilig staan.

35Hy oefen my hande vir die geveg, my arms om ’n bronsboog te trek.

36U redding is vir my ’n skild. U regterhand ondersteun my; u hulp maak my sterk.

37Die pad onder my maak U breed, en my enkels swik nie.

38Ek het my vyande agtervolg en ingehaal; ek het nie omgedraai voordat hulle almal uitgewis was nie.

39Ek het hulle oorrompel en neergeslaan, hulle kon nie opstaan nie; hulle het voor my voete geval.

40U het my met krag toegerus vir die stryd, en my teenstanders aan my onderwerp.

41My vyande het U voor my laat vlug; my haters het ek uitgewis.

42Hulle roep om hulp, maar niemand kom help nie; selfs tot die Here, maar Hy antwoord hulle nie.

43Ek maal hulle fyn soos die stof van die aarde, soos modder op straat vermorsel ek hulle.

44In die stryd met teenstanders het U my verlos, my aangestel as koning oor nasies. ’n Volk wat ek nie geken het nie, dien my nou.

45Uitlanders word my onderdane. As hulle van my hoor, gehoorsaam hulle my.

46Vreemdelinge word moedeloos en kom bewend uit hulle vestings.

47Die Here leef! Ek prys my rots! Ek loof God, rots van my redding,

48God wat wraak neem namens my, wat volke aan my onderwerp.

49Hy red my van my vyande. Buite bereik van teenstanders verhef U my; U verlos my van geweldenaars.

50Daarom, Here, sal ek U prys voor die nasies. Tot eer van u Naam sal ek ’n loflied sing!

51U gee groot oorwinnings aan u koning; aan u gesalfde is U getrou, aan Dawid en sy nageslag vir altyd!

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Psalms 18.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.