1Beskerm my, o God, want ek kom na U toe vir skuiling.
2Ek sê vir die Here: “U is my Here! Alle goeie dinge kry ek van U alleen.”
3Die sogenaamde heiliges in die land, vervloek is elkeen wat vreugde in hulle vind.
4Mag hulle wat ander gode najaag baie droefheid beleef. Drankoffers van bloed sal ek nie uitgiet nie, of die name van hulle afgode op my lippe neem nie.
5Here, U alleen is my erfenis, my beker van seën. U waarborg my lotsbestemming.
6’n Pragtige plek is vir my afgemeet. Wat ek geërf het, is vir my mooi!
7Ek prys die Here wat my insig gee; ook in die nag is ek daarvan bewus.
8Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand; daarom sal ek nie struikel nie.
9Hieroor is my hart vol vreugde. Ek besing sy lof, en woon in veiligheid.
10Want aan die doderyk sal U my nie prysgee, of toelaat dat u getroues in die graf ontbind nie.
11U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd.