1Ek wil U prys, my God en my Koning, u Naam wil ek altyd loof.
2Ek wil U elke dag loof, en u Naam vir altyd prys.
3Die Here is groot! Hy is waardig om geprys te word. Sy grootheid is onmeetbaar.
4Geslag na geslag sal u dade prys en van u magtige werke vertel.
5Ek sal die glans en heerlikheid van u majesteit verkondig en nadink oor u wonderdade.
6Mense sal praat van u vreeswekkende dade; hulle sal van u grootheid vertel.
7Hulle sal vertel van u onvergeetlike goedheid; en met vreugde sing van u regverdigheid.
8Genadig en barmhartig is die Here, stadig om kwaad te word, en ryk in liefde.
9Die Here is goed vir almal, en barmhartig oor sy hele skepping.
10Alles wat U geskep het, loof U, Here, en u getroue dienaars prys U!
11Hulle vertel van die prag van u koninkryk; hulle maak u groot mag bekend.
12Hulle sal aan almal vertel van u magtige dade, en van die glansryke majesteit van u koninkryk.
13Want u koninkryk is ’n koninkryk vir alle tye. U heers geslag na geslag.
14Die Here help almal wat geval het en dié wat swaarkry, tel Hy op.
15Die oë van almal is hoopvol op U gerig; U gee aan almal kos op die regte tyd.
16U maak u hand oop, en bevredig die begeertes van al wat lewe.
17Die Here is regverdig in al sy dade; en getrou in alles wat Hy doen.
18Die Here is naby almal wat Hom aanroep, vir almal wat Hom in opregtheid aanroep.
19Hy vervul die begeertes van dié wat Hom dien; Hy hoor hulle hulpgeroep en red hulle.
20Die Here beskerm almal wat Hom liefhet, maar die goddeloses vernietig Hy.
21Die lof van die Here wil ek verkondig. Alles wat leef, sal sy heilige Naam vir altyd prys!