1Geseënd is die Here, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te maak.
2Hy is my troue hulp en my toevlug, my veilige vesting en my redder. Hy is my beskermer by wie ek skuil, wat volke aan my onderwerp.
3Here, wat is die mens dat U hom raaksien, ’n mensekind dat U vir hom omgee?
4Die mens is soos ’n asemteug, soos ’n skadu gaan sy dae verby.
5Here, buig u hemele en daal neer! Raak die berge aan sodat hulle rook!
6Laat weerligstrale u vyande verstrooi, u pyle hulle in verwarring laat vlug.
7Reik af uit u hemel en verlos my; bevry my van woeste waters, red my uit die mag van vreemdelinge
8wie se monde vol is van leuens, wat lieg selfs as hulle ’n eed aflê.
9Ek sing ’n nuwe lied vir U, o God! Ek sing lofsange met begeleiding van die harp.
10U wat oorwinning gee aan konings, wat vir Dawid, u dienaar, van die bose swaard gered het.
11Red my en verlos my uit die mag van vreemdelinge wie se monde vol is van leuens, wat lieg selfs as hulle ’n eed aflê.
12Dan sal ons seuns in hulle jeug opgroei soos goed versorgde plante. Ons dogters sal hoekpilare wees, uitgebeitel soos vir ’n paleis.
13Ons voorraadskure sal vol wees van allerlei soorte lewensmiddels. Ons kleinvee sal vermeerder by die duisende, selfs by die tienduisende op ons velde.
14Ons beeste sal baie kalwers hê. Daar sal geen breuk in ons mure, en geen ballingskap meer wees nie; geen klaagkrete sal weer op ons pleine gehoor word nie.
15Gelukkig is die volk met wie dit so goed gaan. Gelukkig is die volk wie se God die Here is.