1Luister na my gebed, Here! Hoor tog my smeekgebede. Antwoord my, want U is getrou en regverdig.
2Moenie ’n regsgeding teen u dienaar begin nie, want niemand wat lewe, is voor U onskuldig nie.
3My vyand agtervolg my, vertrap my teen die grond, hy laat my in duisternis lewe soos dié wat lankal dood is.
4Ek het moed verloor; ek is stomgeslaan.
5Ek dink aan die dae, lank gelede. Ek peins oor al u dade, ek oordink die werke van u hande.
6Ek strek my hande uit na U. Ek dors na U soos ’n verdorde land. Sela
7Antwoord my tog gou, Here, want ek het moed verloor. Moenie U vir my verberg nie, anders word ek soos dié wat sterf.
8Laat ek in die oggend hoor van u onfeilbare liefde, want ek vertrou op U. Wys my die pad waarop ek moet loop, want tot U rig ek my gebed.
9Bevry my van my vyande, Here, want ek skuil by U.
10Leer my om u wil te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei op ’n pad wat gelyk is.
11Here, laat my lewe ter wille van u Naam; lei my uit my nood, want U is regverdig.
12Vernietig my vyande ooreenkomstig u trou; laat al my teenstanders omkom, want ek is u dienaar.