1Here, ek roep tot U; maak tog gou! Luister na my wanneer ek na U roep!
2Aanvaar my gebed soos wierook voor U, en my uitgestrekte hande soos ’n offer in die aand.
3Sit ’n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê.
4Bewaar my van verkeerde begeertes wat lei na bose dade, saam met mense wat sonde doen en so saam eet aan hulle lekkernye.
5Regverdiges kan my slaan in liefde, en my ook teregwys. Dis soos salwing van die kop met olie, wat ek nie sal weier nie. My gebede is gedurig teen boosdoeners gerig.
6As hulle leiers afgegooi word van ’n krans, dán sal hulle my woorde hoor en weet dit was goed.
7Soos wanneer een wat ploeg die aarde oopbreek, so verspreid lê ons beendere by die bek van die doderyk.
8Maar my oë is op U gerig, oppermagtige Here. U is my toevlug; moenie my oorgee aan die dood nie.
9Bewaar my van die strikke wat hulle vir my gestel het, van die vangnet van hulle wat onreg doen.
10Laat die goddeloses in hulle eie vangnette val, maar laat my vrykom daarvan.