1***
2Red my van bose mense, Here, beskerm my van gewelddadiges
3wat in hulle harte boosheid beplan en die hele dag vyandskap aanhits.
4Hulle tonge is giftig soos ’n slang; hulle woorde venynig soos adders. Sela
5Here, hou my uit die hande van goddeloses. Bewaar my van gewelddadige mense wat saamspan om my te laat val.
6Trotsaards het vir my ’n strik gestel; ’n net van toue het hulle gespan, en op die pad vir my wippe gestel. Sela
7Ek het vir die Here gesê: U is my God! Luister tog, Here, na my gebed om genade!
8Oppermagtige Here, my sterke redder, U bewaar my op die dag van die veldslag.
9Here, moenie toegee aan begeertes van bose mense nie. Moenie toelaat dat hulle planne suksesvol is nie. Sela
10Mag die leiers wat my omsingel, oorspoel word met die boosheid waarvan hulle praat.
11Laat gloeiende kole op hulle val, laat vuur op hulle val. Uit modderputte sal hulle nie kan kom nie.
12Moenie toelaat dat lasteraars hulle in ons land vestig nie. Laat mense van geweld keer op keer met rampe getref word.
13Maar ek weet die Here behartig die regsaak van die hulpeloses en die regte van die armes.
14Die regverdiges sal u Naam prys, en in u teenwoordigheid sal die opregtes lewe.